Politiese korrektheid help nie
top of page

Politiese korrektheid help nie


Ons samelewing word deesdae geteister deur mense wat alewig “aanstoot neem” en vies is oor wat nou al weer kwytgeraak is aangaande hulle politieke party, etniese groep of kerk. Mense in publieke posisies word links en regs afgedank omdat hulle nou per ongeluk skeefgetrap het en iets kwytgeraak het wat iemand nou al weer verkeerd opgevryf het. Aanstoot neem het ‘n epidemie geword.

Verstaan my asseblief reg: Dis natuurlik belangrik om op te let wat jy sê, veral in die openbaar. Ons het ‘n groot verantwoordelikheid om nie onnodig onsensitief te wees soos die spreekwoordelike “bull-in-a-china-shop” nie. Te veel mense – sonder enige wag voor hulle mond – raak allerhande nonsens kwyt voordat hulle dink wat hulle sê.

Die probleem met politiese korrektheid is egter dat dit kan lei tot ‘n kultuur van liggeraaktheid en liggeraaktheid is ongesond. ‘n Liggeraakte kultuur kweek babas, nie volwasse mense nie. Sommige grootmense is so kleinserig dat hulle geen vorm van gesonde opposisie of kritiek kan hanteer nie. Hulle raak emosionele bloeiers. Jy vat net aan hulle en dan bloei hulle so dat daar geen einde aan kom nie! Dan is dit ewe skielik hofsake, klaaggesange en afdankings! G’n wonder dat Paulus ‘n verrassende sinnetjie invoeg wanneer hy praat oor liefde nie:

Die liefde… is nie liggeraak nie” (1 Kor 13: 4-5).

Waarom beweer Paulus dat liggeraaktheid nie pas by liefde nie? Want liggeraaktheid éís dat mense moet optree teenoor my in ooreenstemming met wat ék wil hoor. Wanneer ek egter nie kry wat ék wil hoor nie dan reageer ek met oordadige pyn, trane en “tantrums”. Die nederigheid van liefdevolle mense kom egter gou oor hom/haarself en hou in gedagte dat ons almal soms moet hoor wat ons nie wil hoor nie! Hulle neem in ag dat ons elkeen ook maar net ‘n persepsie op die realiteit het en dat ons elkeen iemand nodig het wat mekaar se denke kan uitdaag.

Liggeraaktheid volg nie die pad van die kruis nie. Jesus het inderdaad rede gehad om aanstoot te neem of seergemaak te voel. Hy was immers verraai en verlaat deur sy eie vriende en is vermoor deur dieselfde mense vir wie Hy kom sterf het! Hy reageer egter steeds met vergifnis. Kan jy jou indink hoe Paulus se briewe sou klink indien hy sou besluit om liggeraak te wees of gedurig aanstoot te neem? Wat sou ‘n liggeraakte Paulus nie kwytgeraak het nadat hy en Silas se rûe stukkend geslaan was in Filippi, of nadat hy in Listra met klippe gegooi was nie? In plaas daarvan om aanstoot te neem sing hy en Silas egter tot eer van God. Nadat hy met klippe gegooi is staan hy bloot op, skud die stof af en gaan die stad weer binne om sy werk te voltooi! Wat ‘n voorbeeld om na te volg vandag!

Baie mense in ons land sal kan doen met die voorbeelde van Jesus en Paulus, sodat ons nie vasgevang raak in die greep van egoïsme en liggeraaktheid nie!


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page