’n Hoër roeping as ons eie veiligheid!? Regtig?
top of page

’n Hoër roeping as ons eie veiligheid!? Regtig?


Dit is maklik om “alles” vir die Here te gee in elke tweede lied wat ons op Sondae sing. Of in ons gebede. Maar sê nou die Here vra ons veiligheid. Is ons bereid om dit op te gee? Hier in gevaarlike Suid Afrika? Ernstig? Eerlik?

Hiervan gepraat, Paulus se woorde in Sesarea aan huis van Filippus in Handelinge 21:10-14 daag by elke keer uit. Onderweg na Jerusalem het Paulus en Lukas, Timoteus en Silvanus by Filippus oorgebly. Toe daag die profeet Agabus ook op. Hy vat toe Paulus se belt in sy hand en sê: “So sê die Heilige Gees: Die Jode sal in Jerusalem die eienaar van hierdie belt net so vasbind en hom aan nie-Jode uitlewer.” Net daar het die ander kerkleiers an reisgenote van Paulus hom gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie. Sy veiligheid was hulle hoogste prioriteit. Maar dan volg Paulus se skokkende antwoord (vers 13, Die Boodskap): “Hoekom probeer julle om my van my plan te laat afsien? Netnou oorreed al julle gehuil my om nie meer Jerusalem toe te gaan nie. Kom ek sê reguit vir julle: dis glad nie vir my ’n probleem as ek in Jerusalem in die tronk beland nie. Ek gee nie eens om as hulle my doodmaak ter wille van die Here Jesus nie!”

Wat ’n antwoord! Wat ’n vars verstaan van roeping. Vir Lukas, Timoteus, Silvanus, Agabus en Filippus is dit veiligheid eerste, maar vir Paulus is veiligheid nie deel van die oorweging wanneer God se wil en sy roeping ter sprake is nie. Daar is vir hom ’n belangriker beginsel as persoonlike veiligheid. Daar is ’n roeping wat hoër is as die behoud van ons lewe, en dit is Christus Self. Om Hom te volg is om jou lewe op te offer. Trouens, dit is presies wat ons elkeen gedoen het toe ons opgeteken het om Jesus na te volg. Ons het kruisdraers geword toe ons tot geloof gekom het. Ons het sy doodsvonnis op ons eie skouers geneem. Ons is lankal reeds “dead men walking” en “dead women walking.” Ons ag nie ons eie lewe, of ons eie veiligheid of ons voorspoed hoër as Christus nie. Ons is bereid om nie net vir Hom te lewe nie, maar ook te sterf. Altans, dit is wat ons sê as ons ons lewens keer op keer vir Hom gee. Of is dit alles net lippetaal hier in ons gevaarlike omgewings?


bottom of page