Inductive Bible Study [resensie]
top of page

Inductive Bible Study [resensie]


‘n Interessante gegewe is dat mense dieselfde Bybel lees maar by totaal verskillende gevolgtrekkings uitkom rakende sommige leerstellings. En alhoewel hulle uit dieselfde Bybel lees, lyk hulle eredienste verskillend. Wat veroorsaak dit? Nie altyd die Bybel self nie maar ook die manier waarop ons die Bybel interpreteer. Ek gebruik ander veronderstellings as jy en daarom kom ek by ander gevolgtrekkings uit.

Dit beteken nie dat die Bybel klinkklaar en duidelik sy betekenis weergee nie. Soms gee Skrifgedeeltes aanleiding daartoe dat mense dit verskillend interpreteer. En daarvoor is ‘n boek soos hierdie nodig en nuttig. Want dit plaas lesers op dieselfde bladsy in terme van agtergrondkennis.

Feit is: die Bybel is ‘n antieke geskrif wat in ‘n wêreld ontstaan het wat totaal anders lyk en funksioneer as ons. Mens het nie in daardie tyd slegs ander tale as ons gepraat het; hulle wêreldbeeld, idees van moraliteit en etiese optrede en gewoontes het ook dikwels verskil. En as jy toegang tot die inligting het hoe hulle gedink en gepraat het, wat hulle gebruike en gewoontes was, help dit jou dikwels om spesifieke Skrifgedeeltes anders te lees.

Die Bybel ontstaan teen ‘n historiese agtergrond, word as ‘n letterkundige werk neergepen en verteenwoordig sekere teologiese klempunte oor God en sy betrokkenheid by mense. Deur hierdie drie faktore in ag te neem, kan jy reg aan die Bybel laat geskied.

Die goeie nuus is: enige mens kan dié drie faktore verreken wanneer hulle die Bybel lees. Wat nodig is om dit te doen, is om bewus te wees daarvan asook om toegang tot ‘n bron te hê wat jou in staat kan stel om agtergrondkennis in terme van ‘n Skrifgedeelte te ontsluit.

DIt is wat hier gebeur. Jy leer die regte vrae stel, hoe om vertalings met mekaar sinvol te vergelyk, hoe om die konteks te snap, wat spesifieke woorde en frases beteken en hoe om die teologiese onderstrome te herken.

Die boek is nie in vaktaal geskryf nie; enigeen gaan snap wat dit aandagtig lees. En dit is baie prakties: jy kry talle voorbeelde wat jou leer waarvoor om op te let en waar om ekstra inligting te kry.

As die Bybel ‘n belangrike rol in jou lewe speel, gaan dié boek jou studie daarvan indringend verryk.


bottom of page