Paulus [resensie]
top of page

Paulus [resensie]


Die stelling is al gemaak dat Paulus die evangelie van Jesus Christus totaal en al kom verdraai het sodat die kerk sy pad verloor het. Die teenstelling tussen Paulus en Jakobus, en Paulus en die evangeliste word dan as bewys aangehaal hiervoor. Ander meen weer dat Paulus die evangelie kom verwoord het soos Jesus se twaalf (of elf ná Judas Iskariot se dood) apostels dit nie kon doen nie en dat ons alle rede het om dankbaar te wees teenoor Paulus dat ‘n belangrike deel van die Nuwe Testament aan hom te danke is.

Feit is: Paulus was nie ‘n dissipel van die aardse Jesus nie. Dit is duidelik dat hy Jesus nooit ontmoet het nie. Hy was wel ‘n skrifgeleerde, ‘n Jood wat die beste papiere gehad het om lering in die Hebreeuse Bybel aan te bied. As leerling van Gamaliël en lid van die Fariseërs asook die Sanhedrin was hy goed geplaas om ‘n leidende rol onder Joodse godsdienstiges te speel. Hy is dan ook op pad om ‘n opdrag van die Joodse Sanhedrin uit te voer, om Christengelowiges uit te spoor en aan die Joodse owerhede uit te lewer, wanneer hy sy moses teenkom, in die vorm van die Man van Nasaret. ‘Saulus, jy skop teen die prikkels en beseer net jouself. Kyk die Waarheid in die oë en draai om!’ Saulus word blind Damaskus binnegelei omdat die Een na wie hy gekyk het, hom oorweldig het.

Ja, Paulus word die sendeling na die heidene. En dan leer hy hulle om nie die Wet van Moses te onderhou soos die Jode nie, en om hulle nie te laat besny nie. Alhoewel hy self die Wet nakom wanneer hy tussen sy volksgenote is, leer hy die heidense Christene anders. En hieroor is talle Joodse Christene omgekrap. Paulus en Petrus het dan ook by geleentheid ‘n uitval hieroor.

In Afrikaans is daar niemand anders wat oor Paulus kan skryf soos die deurwinterde teoloog, Adrio König nie. Hy kom dekades met die Bybel saam, het met gelowiges uit talle kerke by Unisa saamgewerk en het himself bekwaam as een van ons land se mees verantwoordelike teoloë wat na die Bybel, en die Bybel alleen luister.

In dié boek stel hy weer eens nie teleur nie. Hy skryf oor die verhouding tussen wat Jesus geleer het en wat Paulus nou vir gelowiges skryf, hy bespreek Paulus se lewe en werk in die vorm van sy sendingreise en geskrifte, hy behandel Paulus se preke soos Handelinge dit weergee, en bespreek dan die belangrikste leerstellings wat Paulus uitlig: dat ‘n mens deur geloof in Christus alleen gered kan word, dat Jesus aan die kruis as ‘n soenverdienste gesterf het, dat Hy op die derde dag uit die dood opgewek is, die doop en besnydenis, die lewe as dissipel, waar Israel in die verhaal van die kerk inpas, wat en wie die kerk is, man en vrou in die huwelik en Christus se wederkoms.

Digby 400 bladsye maak dit ‘n volledige werk sodat jy Paulus eerstehands ken.


bottom of page