God staan reg om Sy guns oor jou uit te stort
top of page

God staan reg om Sy guns oor jou uit te stort


Gister is verby- ons kan niks meer daaraan verander nie en ons weet nie wat die toekoms vir ons inhou nie, maar vandag het ons nog die geleentheid om ons volle potensiaal te kan uitleef. Joël Osteen gee in YOUR BEST LIFE NOW, Faith Words, 2004, praktiese wenke hoe elkeen van ons gelukkiger as ooit kan leef.

Die eerste wenk om jou beste nou te lewe is om na die lewe te kyk deur oë van geloof waarmee jy jouself sien nuwe hoogtes bereik, jou besigheid sien floreer, jou huwelik sien herstel, jou drome sien waar word. Jy moet dit eers in jou hart en verstand ervaar voordat jy dit kan ontvang. Jesus het gesê dat jy nie ‘n ryker lewe kan hê met beperkende gedagtes en houdinge nie. God probeer om in ons lewens iets nuuts te doen, maar tensy ons gewillig is om te verander, om ons visie te verbreed, sal ons Sy geleenthede vir ons mis. Dit is waarom Hy Sy volgelinge daaraan herinner het: ”n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie. As jy dit doen, bars die sakke, die wyn loop uit en die sakke is daarmee heen. Nee, ‘n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en so behou jy altwee” (Mat.9:17).

Dikwels laat God toe dat mense jou pad kruis wat baie meer suksesvol is as jy in jou werk, wat baie sterker huwelike het as jy. Dit moet jou eerder aanmoedig as wat dit jou jaloers maak. Gooi die ou wynsakke weg. Verander jou denke en glo vas dat God groot dinge in jou lewe gaan laat gebeur. Jesus self het gesê: “Vir die een wat glo, kan alles” (Mark.9:23).

As jy van God die buitengewone wil ontvang, dan moet jy begin om Hom vir die groter dinge in jou lewe te vertrou. Wanneer God geleenthede oor jou pad bring, aanvaar jy die uitdaging in geloof wetende dat jy in staat is om te doen wat God van jou verwag. Of laat jy die geleentheid verbygaan omdat dit te groot vir jou is of dat jy voel jy nie die nodige kwalifikasies, ervaring of selfvertroue het nie? Onthou, God word nie beperk deur wat jy het of nie het nie want God kan enige iets doen, Hy word slegs beperk deur ons gebrek aan geloof.

Word jou lewe gekenmerk deur mislukkings in jou werk, huweliksprobleme, middelmatigheid, of ander familieprobleme, dan is dit nou tyd vir jou om te sê: “Tot hier en nie verder nie. Ek gaan nie hierdie negatiewe houdinge aangee na my kinders en kleinkinders nie. Ek gaan begin om God te glo vir groter en beter dinge”.

As jy volhard waarmee jy besig is, jy jou op God se guns beroep en sal bly glo, sal God vir jou deure van geleenthede oopmaak en slegte omstandighede in jou lewe verander wat tot vele suksesse sal lei. As jy vir God lief is, sal Hy alles tot jou voordeel laat uitwerk (Rom.8:28).

Doen jy jou deel, God sal Sy deel doen.

Dawid vra in Psalm 86: “Stuur my ‘n teken van u guns.....want U, Here, help en vertroos my”. Onlangs het ek God gesmeek vir Sy genade, guns en beskerming toe die bank foutiewelik ‘n dubbel aftrekking op my bankrekening gemaak het wat ‘n reuse oortrekking tot gevolg gehad het en ek geen oortrekkingsfasiliteit gehad het nie. Dit was gedeeltelik my fout. Ek is aangesê om dadelik die nodige reëlings by die bank te gaan tref.

Ek het die hele pad na die bank ernstig gebid vir God se leiding en beskerming. Dit was ‘n dag voor ‘n langnaweek en die besigheidsentrum was soos ‘n miernes. Ek beland eerstens in ‘n eenrigtingpad wat ek agteruit moes aandurf... en die verkeer kom tot stilstand om my te laat verbykom (dankie God!), daarna kry ek ‘n parkeerplek in ‘n oorvol parkade (dankie God). By die bank het meer as 50 mense gewag om bedien te word maar by die ingang groet ‘n vrou van die bank my en neem my na haar lessenaar. Sy bel dadelik en stel die fout reg (dankie God). Ek het trane van blydskap gestort en kon skaars sien waar ek ry. Ek loof die Here elke oomblik van die dag, want Hy het Sy guns oor my laat neerdaal en ook hierdie probleem tot my voordeel laat uitwerk.


bottom of page