Stiltetyd – tyd om my geestelike tenk vol te maak
top of page

Stiltetyd – tyd om my geestelike tenk vol te maak


Jou klein Christelike gewoontetjies mag dalk jou god wees – die gewoonte om op bepaalde tye van die dag jou Bybel te lees en te bid. Wees bedag daarop dat jou Vader hierdie skedule van jou sal omvêrwerp indien jy begin om die gewoonte te aanbid, in plaas van dit wat deur die gewoonte gesimboliseer word.

- My allerbeste vir sy hoogste, Oswald Chambers

Stiltetyd is lewensbelangrik, maar om heeldag in die teenwoordigheid van God, ‘in pas’ met Hom, deurdrenk van Jesus, te lewe, is net so belangrik indien nie belangriker nie. Die versoeking is groot om die kwaliteit van my geestelike lewe te meet aan my awesome stiltetye, maar die eintlike toets is my gehoorsaamheid aan dit wat God my geleer het wanneer ek die alledaagse probleme en uitdagings moet hanteer.

Ek het onlangs met iemand gesels wat ongelooflike Bybel- en teologiese kennis het, máár sukkel met onvergewensgesindheid, bitterheid en depressie. Hy het al die kennis, maar pas dit nie toe in sy lewe en in sy verhoudings nie. Hy het in ‘n negatiewe spiraal van selfbejammering beland vanwaar hy sukkel om uit te kom – waaruit hy nie eintlik wil kom nie. Hy vermy alleentyd saam met die Here, stilword-tyd aan die voete van sy Vader. Gevolglik kan hy nie ‘n pad van oorwinning saam met Jesus stap nie. En dit terwyl Jesus belowe het dat “die water wat Ek hom sal gee sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee. (Johannes 4:14) Terwyl Jesus ons verseker dat Hy gekom het dat ons lewe sal hê en dit in oorvloed (Johannes 10:10).

Hierdie fontein is standhoudend omdat Jesus betroubaar is – wanneer ek in situasies kom waar dit maklik is om op wêreldse beginsels terug te val in plaas van die radikaal anderse manier wat Jesus vir ons kom leer het.

Soms sal ek God ontmoet op ‘n “bergtop” en die lieflike uitsig geniet, of soms wegkruip onder ‘n “oorhangende rots” omdat die lewe vir my te veel raak. Dit is hier waar God my soms daaraan herinner om die trane af te droog en my sokkies op te trek (Jeremia 45) en ander kere bemoedig Hy my met vars brood en water én met die brood van sy Woord en die verkwikkende water van sy Gees (1 Kon 19:1-21). Dis hier waar Hy nie net my geestelike tenk volmaak nie, maar my uitstuur om te gaan dissipels maak waar ek ookal die dag mag gaan, werk, ontspan. Dit is Hy wat my leer en bekragtig om met sy liefde en krag en selfbeheersing ons “stal” te deel, mekaar lief te hê en op te bou om ‘n verskil in die wêreld daar buite te kan maak.


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page