top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Studente betoog; korrupsie en droogte wen … hoe nou gemaak?


Jy hoef nie ’n kenner te wees om te weet dinge is taai in Suid Afrika nie. Alles en almal is aan die baklei… almal is moedeloos. Wat nou gemaak? Wel, ons moet bid! Maar dan nie omdat gebed ’n “quick fix” is nie. Gebed is nie bloot net “die regte ding om te doen,” so asof dit slegs in krisistye die gepaste godsdienstige knoppie is om te druk om flink hemelse hulp te verkry nie. (En as dit nie gebeur nie, dan meld al die omgekraptes weer aan by die godsdienstige klagte-departement omdat God blykbaar nie wil luister as hulle met Hom praat nie!) Ons kan nie gebed soos ‘n noodwiel uit die bagasiebak haal net omdat ons ander wiele skielik nie meer werk nie. Of haastig op ’n paar Bybeltekste gaan staan asof ons God wil dwing tot iets nie. Nee, ons moet bedaar en weet Hy is die Here. Ons moet tot rus kom in heilige afwagting op God. In die woorde van Habakuk 2:20 moet ons besef: “Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees!” Hoor weer, God roep ons op om stil te wees voor Hom. God is die Almagtige. Hy ken ons deur en deur. Soos wat Psalm 139 leer is Hy met ons doen en late goed bekend. Daar is nie eens ’n gedagte in ons kop, of ’n woord op ons lippe nie, of die Here weet dit. Hy sluimer nie in of raak aan die slaap nie.

Ons moet ons toevlug tot die lewende God neem. In vertroue mag ons ons diepste nood voor Hom uitstort. Maar dan moet ons stil wees en wag op Hom, soos wat Hy aan die begin van Habakuk 2 sê. Ons wag nie op diens nie, maar op God. Ons wag nie op gebedsverhorings of antwoorde of deurbrake nie, maar op die Here Self, want Hy is die antwoord. Hy is die gebedsverhoring. Hy is die deurbraak, ook nou wanneer tye taai is.


bottom of page