Is jou oog die lig van jou liggaam?
top of page

Is jou oog die lig van jou liggaam?


Lukas 11: 34-36

Ek sê baie keer wanneer jy in iemand se oë kyk, sien jy sy siel raak. Ongeluk of geluk is baie keer sigbaar in iemand se oë. Baie siektes word gediagnoseer deur in die oë te kyk. Liefde reflekteer in iemand se oë en die manier hoe jou geliefde vir jou kyk, sê alles.

Tereg dat Lukas sê die oog is die lamp van die liggaam. Wat jy kyk met jou oë reflekteer in jou siel. Wanneer jy na goed kyk wat nie goed is vir jou nie, beïnvloed dit jou lewe. Ek dink nou maar net aan pornografie. Dit is seker die mees destruktiewe kyk wat jy kan kyk. Die degradering wat dit meebring is reeds aan ons bekend. Dit maak jou liggaam donker. Wanneer jy na donker sondige dinge kyk, verander dit die lig waarmee jy kyk.

Ons moet versigtig wees dat donkerte nie oorneem nie en daarom moet ons self die lig soek en nooit die donkerte toelaat nie. Jy maak die keuse waarna jy kyk en hoe jy kyk. Wanneer jy na iemand van die teenoorgestelde geslag kyk, moet jy versigtig wees. Jy mag nie kyk met begeerte nie, dan bring jy donkerte in jou hart in. Hoe meer donkerte die lig verdring, hoe meer sondige gedagtes gaan jy koester. Voor jy jou kan kry gaan jy vasgevang wees in ‘n donker put.

Ons moet ook versigtig wees dat ons nie klein deeltjies donkerte toelaat en koester nie. Klein sondetjies word later groter en verswelg jou. Jy moet sorg dat jou hele liggaam verlig is van binne. Wanneer jy eerlik en met integriteit kyk en lewe, sal jou oë jou liggaam verlig en sal jou lig skyn vir almal om te sien. Dan is jou lewe en liggaam ‘n kristal van deursigtigheid, ‘n getuienis van God se wil wat regeer in jou lewe. Dan is jy oor niks skaam of terughoudend nie, want jou lewe is glashelder. Jou lewe is ‘n helder lig wat getuig dat jy nie net lewe in die lig van Christus nie, maar ook lig afgee wat getuig van jou lewe.

Gebed

Here, ek gee my oë vandag vir U. Laat U lig deur my skyn. Laat U lig my lewe vul tot in die vêrste dieptes van my siel.

Amen


bottom of page