Ek verstaan nie…
top of page

Ek verstaan nie…


Ouers steek mos altyd vir hulle kinders die seer weg. Ek het dit nooit die logika verstaan nie: veral destyds se ouers; maar eendag sien ek hoe my ma ‘n klein wit pilletjie vir my pa gee en hy dit onder sy tong sit. Dit terwyl hy die gemeente sing voor hy preek. Die liturgie moes mos ergerlik gevolg word. Wanneer ek deesdae preek vergeet ek soms van die liturgie…met opset. Ek wil nie die mense wat liedjies en flieks ‘download’ laat ongemaklik voel met iets vreemds nie: eks so bly wanneer hulle in die kerk is en daarom laat waai ek so vinnig as moontlik met meevoerende liedere en treffende preke. Wie weet wanneer sien jy hulle nou weer?! ‘n Mens kry nie meer iets soos lidmate nie, myns insiens. Jy kry wel mense wat verskillende gemeentes besoek en daar waar hulle iets treffend kry, sal hulle weer kom ‘kuier’.

En so sien ek hoe my pa die wit klein pilletjie onder sy tong sit. Later toe ek tande tel kom ek agter dat sy hart nie lekker is nie. Hierdie keer gaan ek saam dokter toe. Daar hoor ek hoe die kardioloog my pa waarsku oor sy rookery, maar hy antwoord dat hy al baie mense begrawe het wat nie gerook het nie. Die dokter het nie gedink my pa is snaaks nie; so het ek ook nie gedink hys snaaks nie want dis die eerste keer wat ek besef dat hy werklik siek is. So kort asem en saans dra my ma versterkdruppels aan…

Dis ‘n geweldige ding vir ‘n jong kind om te sien as sy ouer/s siek is. Dis nie lekker nie en niemand gesels met jou oor wat werklik aan die gebeur is nie. Wanneer iets tussen ouers en in ouers se lewe gebeur dan gesels niemand met die kinders nie; min te wete besef ons dat kinders ook gevoelens het. Ek sien hoe hy nog bidure gaan hou en huisbesoek doen terwyl hy nie krag het nie. Ek sien hoe hy tot ou nag toe die Bybel bestudeer vir ‘n treffende preek Sondag. En Sondagaand gaan ek saam want ek is bekommerd oor die ‘ou topie’. Daar is drie mense insluitend die koster. My pa preek toe 45 min. Agterna vra ek hom hoekom hy nie kort gesny het nie omdat daar net 3 mense was? Sy antwoord aan my was dat daardie 3 persone moeite gemaak het om kerk toe te kom en daarom het hy ordentlik gepreek.

Ek verstaan nie hoekom my pa nie wou opgee nie? Hoekom wou hy nie bedank of band losmaak of demissie aanvra nie? Hoekom wou hy homself ter gronde werk?

Op my pa se grafsteen staan geskrywe Ps 107:30. Sy begeerte was om in die diens van die Here altyd te bly…tot op die laaste. As kind het ek dit nie verstaan nie…


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page