Come with Me [resensie]
top of page

Come with Me [resensie]


Suzanne Eller. Come with Me: Discovering the beauty of following where He leads. Bethany House. 2016

Verbeel jou Jesus stap skielik tot voor jou en vra of jy nie agter Hom wil aangaan nie. Hy verduidelik nie vir jou waarheen Hy op pad is nie en Hy sê ook nie vir jou wat dit alles jou gaan kos om agter Hom aan te gaan nie. Sal jy kans sien?

Dis waaroor Suzanne se boek gaan. Sy verduidelik dat om agter Jesus aan te loop, beteken dat jy wegstap van lysies van dinge wat jy alles moet doen om die Here te behaag, van reëls en regulasies wat jou voortdurend skuldig laat voel het. Om agter Jesus aan te loop, beteken dat jy Hom volg wat jou verras en bly maak, jou verander en jou impak op die wêreld verdiep.

As die dertiende dissipel gaan Hy jou met mense in aanraking bring waarvan jy nie noodwendig hou nie. En jy gaan hulle liefhê. Jy gaan na jou wêreld en omstandighede kyk vanuit jou klein postuur en jy gaan groot glo oor alles wat verander omdat jy Hom voor jou sien wat oor alles beheer uitoefen.

Jou lewe gaan vol tekens word van sy guns en voorsiening sodat jy van oomblik tot oomblik in dankbaarheid gaan leef. En jy gaan deur storms loop wat jou andersins in mekaar laat krimp het van vrees, maar dié keer gaan jy kop omhoog hou omdat die Een wat eerste deur die storm loop, al vroeër op water geloop het.

Ja, jy gaan die diep water binnestap sonder om te vrees omdat jy Hom in die oog hou wat nie deur dieptes afgeskrik word nie. En jy gaan leer gee omdat jou motief om te gee, verander het.

Jy sien: in hierdie wêreld gaan jy dit moeilik hê. Maar hou moed, die Een agter wie jy aanloop, het klaar die wêreld oorwin!

‘n Vlak geloof gaan dalk sien hoe jy onder die golwe sink. Maar geloof in die God wat oomblik vir oomblik by jou is, gaan jou deurdra. Te midde van vervolging, lyding en swaarkry.

Talle mense het na Jesus gaan luister. Hulle was opgewonde oor wat Hy geleer het. Maar slegs ‘n handjievol het wanneer Hy klaar bedien het, opgestaan en agter Hom aangeloop. Meeste het maar weer huis toe gegaan en aangegaan met hulle lewe. Dis die vraag: is jy deel van die skare, of van die klein groepie dissipels?

Suzanne se boek daag jou uit om met niks minder nie as alles tevrede te wees. ‘n Boek wat veral vroue uitdaag, alhoewel mans ook veel baat daarby gaan vind.


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page