Enige iemand in sy diens
top of page

Enige iemand in sy diens


“... Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat opdroog het toe julle uit Egipte weg is...” Josua 2:10

Ek is so bly dat God nie perfekte mense kies om vir Hom te werk nie. Want dan sou daar min van ons wees wat iets vir Hom kon doen nie! Ons Here kies gebrokenes, sondaars en feilbare mense. Ja, Hy kies selfs mense soos Ragab: die prostituut!

Jy onthou nog dat Josua die Israeliete moes lei om die beloofde land binne te val en dat hy toe eers twee spioene vooruit gestuur het om ‘n paar dinge te verken. Dis dan wanneer die verkenners met Ragab, die prostituut, kontak maak. Ragab was nie geleerd nie en het nie veel kennis oor die Here gehad nie, maar sy het gehoor wat die God van Israel kan doen en het besluit dat sy hierdie God wil vertrou. En omdat sy glo sonder om te sien, help sy die twee verkenners om te ontsnap. Ragab hoor, vertrou en glo en word dan op ‘n wonderlike manier deur God gebruik.

Ons is allermins perfek. Ons kennis van God, die Woord en sy wêreld is so beperk. Tog wil die Vader ons gebruik presies soos ons vandág is. Want Hy gaan ons toerus met dit wat ons môre kan wees.

Moenie verbaas wees as jy God se roepstem in jou hart hoor nie. Vertrou Hom, volg Hom en beleef hoe Hy wondere deur jou doen!

Here, ek sal gehoorsaam volg waar U my lei.


bottom of page