Trek jou geloofstekkies aan!
top of page

Trek jou geloofstekkies aan!


Ons deel in Christus se reuse oorwinning omdat Hy ons baie lief het. Romeine 8:37b

‘n Mens kan vreeslik ernstige hoop en baie droom en ... dan nêrens kom nie. Omdat jy verkeerd hoop! Omdat jy amper as ‘n soort dagdromery lui sit en wag. Dis wanneer ons passief hoop. Wanneer God oor “hoop” praat, bedoel Hy iets heeltemal anders. Hy vra dat ons wakker sal hoop. Dat ons aktief en gespanne sal wag omdat ek rede het om te glo dat God iets begin het wat Hy gaan klaarmaak. Dis om met absolute sekerheid te weet dat God jou as sy geseënde ‘n wonderlike lewe wil gee en jou dan uitnooi om werlik deel te neem aan hierdie lewe.

Christelike hoop gaan oor aktiewe wag. Dis nie ‘n luilekker terugsit en wag vir die dag wanneer ons hemel toe gaan nie. Dis om met afwagting God se wil vir my lewe te soek en dan aktief saam met Hom te werk om daardie plan uit te voer.

Liewe leser, God is in jou. En omdat Hy deel van jou is, kan jy met dié soort hoop leef wat glo dat Hy net die heel beste soort lewensvreugde vir jou beplan en jou wil help om dit te beleef.

Om op God te hoop beteken om te vra: “Here, wat wil U hê moet ek doen?” En om dan ... jou geloofstekkies aan te trek en agter Hom aan te hardloop.

Ek’s opgewonde oor dit wat U deur my wil doen. Doen dit Here!


bottom of page