Eskom
top of page

Eskom


Ek verstaan sekere munisipaliteite het verskillende tariewe en dan is daar nog ‘n wintertarief! Ek verstaan nie werklik hoekom elektrisiteit jou meer kos in die winter nie: moet mense nou minder krag verbruik terwyl dit so koud is? Ander vrae wat my pla:

  1. Hoekom betaal sekere areas duurder vir elektrisiteit as ander?

  2. Is koopkrag regtig ‘n goeie ding of is dit maar net ‘n ‘kopding’? Jy sien wat jy verbruik en sodoende verbruik jy minder.

  3. Hoekom moet Eskom ‘n wins toon? (Hoekom moet SARS ‘n wins toon?)

  4. Gebruik lugversorging regtig meer krag as ‘n verwarmer?

Soos Paulus verklaar in 1 Kor. 13:9; ons profeteer net ten dele en ons ken net ten dele. Iewers raak iemand ryk en dit is nie verbruikers nie. Gelukkig het my pa my goed geleer in die pastorie van kragverbruik. “Sit die ligte af-die kerkraad!”, ek onthou hierdie woorde baie goed. Daarom selfs vandag nog as ek saans niemand in ‘n vertrek sien nie; sit ek die kamerlig af. Ons moes maar soms almal by die kombuistafel leer en tuiswerk doen want die kerkraad het gedurig gekla oor die pastorie se kragrekening wat so hoog is. Dit en ander goed het maar gesorg vir ‘warme’ kerkraadsvergaderings. Meer as 20jaar later was my eie kerkraadsvergaderings ook ‘warm’. Hoekom moet kerkraadsvergaderings in elk geval konflik geleenthede wees. Is dit nie ‘n geleentheid waar broers en suster mekaar moet bemoedig en groot droom oor God se koninkryk nie. Wat is werklik die doel van kerkraadsvergaderings? Is dit verslaggewing sessie of is dit ‘n spanbou? Ek het eendag gehoor iemand noem dit ‘n saam-droom-sessie. Dit was vir my werklik baie mooi…om saam te droom oor die koninkryk van God in die wêreld en waar daardie gemeente inpas. Ek sou destyds in my eie gemeente uitvind dat ‘n kerkraadsvergadering soms ‘n plek is waar dominees seerkry…soos my pa ook seergekry het. En net soos Eskom is daar ‘n ander twee vrae wat my pla:

  1. Hoe sou Jesus se agenda vir ‘n kerkraadsvergadering lyk?

  2. Hoe sou Jesus se gemeente-begroting in ‘n kerkraadsvergadering wees?

Jesus se ontmoetings of sy kerkraadsvergaderings met sy dissipels was anders. Daar was ander fokusse. Daar was interessant genoeg altyd iets om te eet en so lees ons ook in Johannes 21 van die laaste ontmoeting by die See van Tiberius. Daar rondom die vuur met dissipels by ‘n visbraaitjie was daar natuurlik grappies ook vertel, maar seker die belangrikste van alles was die hoop wat Jesus met sy dissipels gedeel het. Daar was nie seer na ‘n ‘Jesus-kerkraadsvergadering’ nie en niemand het seer weggeloop nie.


bottom of page