Ek hou op om God se dagboek te probeer bestuur
top of page

Ek hou op om God se dagboek te probeer bestuur


Party van my gebede is niks anders as vroom voorleggings van my eie plannetjies aan God nie. Dis eintlik maar bedekte opdragte, saam met ‘n klompie aanwysings presies hoe en wanneer om dit te laat gebeur. Kortom, ek is dikwels so besig om my eie behoeftes aan God te kommunikeer en om vir Hom te sê wat Hy alles moet doen dat ek vergeet om Hom onvoorwaardelik te aanbid. Ek probeer te veel kere om deur middel van my gebede in beheer van sake te bly en om sy dagboek vol te maak met al my versoeke en voorskrifte. Dis ‘n fout! Ware gebed is juis om buite beheer te wees. Dis om God met alles te vertrou. Dis om te bely dat alles wat ek is en alles wat ek het van Hom af kom. Hy alleen beheer my lewe. Egte gebed is om leeg te word van myself. My gebede durf nie bedekte pogings wees om God se kalender en aktiwiteite te probeer reguleer nie. Daarom val ek vandag van voor af kinderlik-gelowig in by Sy wil. Daarom buig ek nou sonder enige voorwaardes voor God. Afhanklik en propvol verwondering – die hoe ek van nou af uit my Vader se goeie hand gaan leef!


bottom of page