Hier’s twee groot D’s waarvoor jy kan leef
top of page

Hier’s twee groot D’s waarvoor jy kan leef


‘n Katkisasieboek uit my kinderdae het geskryf dat ons moet ligloop vir daardie drie groot D’s – dans, drink en dobbel! Lyk my ons kan so teen alles wees dat ons nie nog tyd oorhet om vir die Here se dinge te wees nie. Dis ‘n fout. Ons is nie geroep om van vroeg tot laat op sondejagte uit te wees nie. Ons roeping is om vir God te leef, nie teen die sonde nie! Natuurlik het ons nie ‘n lisensie om in sonde rond te lê nie, maar sondestryde mag nie ons fokus wees nie. Die doel van geloof is om elke dag ons oog op God te hou. So van fokus gepraat: hier is twee groot D’s waarvoor ons kan leef: Dank en diens! Dis twee D’s waaroor ons moet opgewonde raak!

Die eerste groot D: Dank!

Ons lewe moet eintlik net gaan oor dankie sê. Alles in ons moet “dankie” uitroep aan die Here omdat Hy ons verniet gered het. Op elke straathoek moet ons uitbasuin dat God goed is. In elke gesprek moet mense ervaar hoe liefdevol ons wonderlike God is. En dat Hy oordadig lief is vir stukkende mense. Ons lewens moet megafone van dank wees. Hoor net hoe jubel Paulus dit uit in Kolossense 3:17: Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word. Julle lewe moet een groot dankie vir God wees.

Die tweede groot D: Diens

Mense wat God se hart ken, is mense wat buig. Nee, hulle is nie oorvol van hulleself nie. Hulle dink nie hulle is die koelste nuus sedert gaskoeldrank die mark getref het nie. Christus se volgelinge is mense wat diensknegklere aangetrek het en ander op die hande dra. Dis mense wat bereid is om agter in die ry in te val. Hulle gooi nie hulle speelgoed op die grond as hulle nie die middelpunt van al die aandag is nie. Diensknegte skuif elke dag die soeklig na mense rondom hulle toe. Om te dien, is die hart van die evangelie. Dis om in Jesus se voetspore te leef. Onthou jy dat Hy in Markus 10:45 gesê het dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien. Jesus dra mense se laste op sy skouers. Hy is die grootste vriend van sondaars en verlorenes. Mense wat deur die lewe getrap is, trek sy aandag. Hulle is op sy prioriteitslys. Nou toe maak die twee groot D’s deel van jou lewensritme!


bottom of page