Dink en eet jouself slim [resensie]
top of page

Dink en eet jouself slim [resensie]


Onlangs het Stephan Joubert, redakteur van ekerk, ‘n boek oor breinnavorsing by CUM gepubliseer wat interessante en belangrike inligting bevat vir gelowiges wat die brein as vennoot wil neem om geloof in die daaglikse lewe te integreer. In dieselfde tradisie publiseer Caroline Leaf – sy is ‘n neurosielkundige wat haar lewe aan navorsing oor die brein wy. CUM het in 2014 reeds haar vorige boek, Maak ‘n kopskuif, gepubliseer.

En nou hierdie boek oor die waarde en rol van jou brein. Dit is nie 'n boek met raad om gou goed te voel en kom-ons-help-jou-gou nie. Dit is ook nie ‘n vinnige-dieetboek nie. Dit verduidelik eerder hoe om 'n langtermyn en volhoubare uitdaging die hoof te bied: wat om te eet wat jou lewe en breinfunksie die beste gaan dien, met die doel om 'n kultuur van denke en dieet by jou te vestig wat gebaseer is op ywerige rentmeesterskap van jou liggaam, en die wêreld wat God aan ons toevertrou het. Dit 'n leefstylboek wat daarop gemik is om jou in staat te stel om jou gees, siel en liggaam te integreer (Romeine 12:2; 1 Thessalonicense 5:23).

Ons is elkeen uniek, wat beteken dat die manier van eet, oefen en slaap wat vir jou werk nie noodwendig vir my werk nie. Jy neem jou groente in sapvorm in en dit werk vir jou. Ek kry nie groentesap in my lyf nie maar eet my groente en kry my daaglikse inname so in. En dit is wat positief van Leaf se boek is: sy laat ruimte vir elke mens se uniekheid, terwyl sy beklemtoon dat jy jou eie lewenstrategie moet formuleer, met die hulp en leiding van die Heilige Gees.

Die boek is in drie dele verdeel: deel 1 handel oor die disfunksionele toestand van ons huidige voedselstelsel en deel 2 fokus op die krag van jou denke, en die impak van negatiewe denke en verkeerde koskeuses op jou brein en liggaam. Deel 3 handel oor lewenstylveranderings wat jou kan help met die taak om jouself slim te dink en te eet. Dit sluit 21 gunstelingresepte van die skrywer se familie in wat jou kan help om prakties hierdie lewenstylverandering in jou kombuis en maag toe te pas.

Die skrywer is nie 'n dieetkundige, voedingkundige of mediese dokter nie maar spesialiseer in navorsing oor die brein. Hier skryf sy oor die nuutste bevindinge van dié opwindende navorsing en pas dit toe op hoe en wat ons dink, asook wat ons eet. So bemagtig sy jou om jou eie keuses te maak om jouself slim te dink en te eet in elke area van jou lewe!

Die boek is gebaseer in Deuteronomium 30:19, dat God elkeen van ons 'n keuse gee: die lewe of die dood, seën of vloek. Hy het ons ook die vermoë gegee om aan die hand van hierdie keuses op te tree en ons wêreld te omskep (2 Timoteus 1:7).

En dit terwyl ons wêreld dringend transformasie benodig. Vandag is daar byna 'n miljard mense wat honger ly en byna twee miljard mense wat oorgewig of vetsugtig is. Inderdaad is dit die eerste keer in ons opgetekende geskiedenis dat miljoene mense regoor die wêreld óf oorgewig is óf van honger sterf, wat albei leefstylsiektes is wat voorkombaar is. Die uitbuiting en vermorsing van natuurlike hulpbronne van die aarde, 'n dramatiese toename in die wêreld se bevolking en toenemende vlakke van chroniese siektes het daartoe gelei dat elke mens moet bevraagteken wat en hoe hy/sy eet.

Indien jy die keuse wil maak, is Caroline se boek uiters geskik om jou te help om die implikasies daarvan te verstaan.


bottom of page