top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Ek is toe nie so vroom soos wat ek gedink het nie


Nie een van ons is so vroom soos wat ons dink nie. Nuwe studies van proff. Francesca Gino en Maryam Kouchaki bevind dat ons baie minder detail oor ons onetiese of verkeerde gedrag vanuit die verlede onthou as van ons ander gedrag. Hulle beskryf hierdie vermoë om ons eie foute te vergeet as “onetiese amnesia.” Blykbaar doen ons dit om ons eie skuldgevoelens te beperk. Nie een van ons hou daarvan om skuldig te voel nie. Daarom dat ons ook daardie verkeerde dade van gister en eergister, waarvan ons gerieflikheidshalwe vergeet het, in die toekoms so maklik weer herhaal.

As dit waar is dat ons almal daarop ingestel is om ons eie foute en sondes te vergeet, dan moet ons wat sê ons is navolgers van Christus, sensitief wees vir ons natuurlike geneigdheid om ligweg met verkeerde dade om te gaan. Jesus nooi ons juis uit om ons oortredings elke keer aan sy voete te kom neersit. In 1 Johannes 2 hoor ons dat sy skouers breed genoeg is vir die hele wêreld se sondes, ook vir ons s’n. Daar’s altyd nog plek vir stukkende harte en hande wat oorlaai is met oortredings aan sy voete.

Om ons sondes en ons onetiese gedrag by Jesus te kom aflaai, is nie om dit te systap nie, maar juis om daarmee te deel deur dit te herken, te bely en te laat staan. Om aan sy voete tot rus te kom, is om eerlik te raak met onsself deur te besef ons struikel steeds en ons maak aanhoudend droog. Ons ontken nooit ons gebrokenheid in Christus se teenwoordigheid nie, maar kom juis hier met bedelaarshande voor Hom tot stilstand. Dan ontvang ons sy genade met groot dankbaarheid en gaan leef nuut vanuit sy vergifnis. O ja, en waar ons ander mense benadeel het, gaan herstel ons ook daardie verhoudings.


bottom of page