Sommer so saam met Christus op pad
top of page

Sommer so saam met Christus op pad


Toe ek onlangs in Handelinge lees van Filippus wat ‘n Etiopiese hooggeplaaste langs die pad ontmoet en vir hom die evangelie van Jesus Christus verduidelik, moes ek noodgedwonge dink aan ‘n interessante Kersfees wat ons ‘n klompie jare gelede gehad het. Ons was as gesin op Ou Kersdag op pad Newcastle toe om vir my ouers te gaan kuier, toe ons ‘n vrou langs die pad kry wat besig is om eiehandig haar kar te probeer stoot. Toe ons stilhou om te help, kom dit uit dat sy eintlik op pad is om selfmoord te probeer pleeg omdat sy voel dat haar situasie net te benard is. Soos wat ons glo Jesus dit sou doen, het ons haar genooi om Kersdag saam met ons familie deur te bring en kon haar bemoedig op haar moeilike pad vorentoe.

Wanneer Jesus Christus deel is van my lewensreis, van my werk en ontspanning, van my vreugdes én my swaarkry, gebeur wat Psalm 84:7 sê van gelowiges: Gaan hulle deur ‘n droë vallei, word dit omskep in ‘n fonteinedal. God het talente en gawes en kreatiwiteit in my gedeponeer wat Hy hiervoor wil aanwend, soms besig is om aan te wend sonder dat ek eens bewus is daarvan.

Millie het baie jare gelede tydens ‘n koffie kuier vir my gevra: “Wat doen jy vir Jesus?” Hierdie vraag, wat sy nie eens kan onthou sy het gevra nie, het gelei tot jare van Bybelstudie hou en dissipels vir Christus maak, soms selfs net deur ‘n hand van vriendskap of omgee wat ek kon uitsteek. So het ek ontdek dat my werk en my ontspanning geleenthede skep waar my stap-saam-met-Jesus ander se lewe kan aanraak.

En ja, ek raak soms moedeloos omdat dit vir my voel asof my lewe nie impak het nie, asof ek sommer net aankarring, of wanneer ek met teleurstellings of teenstand te doen kry. Dit is dan wanneer my daaglikse stil word in my Here se teenwoordigheid my help om een of ander waarheid te herontdek. Vir my persoonlik is dit so bemoedigend om daaraan herinner te word dat Hy my sy Gees gegee het van krag en liefde en selfbeheersing (a calm and well-balanced mind and discipline and self-control – Amplified Bible).

Ek is wel net ‘n kleipot wat maklik breek, maar as ek gevul is met die lig “van die kennis van die heerlikheid van God wat uit die gesig van Jesus Christus straal” en die “allesoortreffend krag … van God” in my is (Nuwe Lewende Vertaling), kan al my skades én skandes, my vreugdes én my foute, my oepsies én my oorwinnings geleenthede wees waardeur Christus sy krag en sy teenwoordigheid in my kan bewys. So het my alledaagse lewe impak vir sy Koninkryk!

MAAR ek kan nie gee wat ek nie eers ontvang het nie, daarom is dit so belangrik dat ek gereeld tyd in persoonlike Bybelstudie en gebed deurbring, en seker maak dat ek daagliks in gehoorsaamheid my gewone pad saam met Jesus stap. Soos die Amerikaanse verkoops-slagspreuk lui: You can’t sell what you aint got!


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page