God is in die detail
top of page

God is in die detail


As ek in Matteus 10:30 lees dat God al die hare op ons kop tel, dan dink ek God is regtig in die detail. Hierdie aardskuddende woorde van Jesus oor God se versorging begin reeds in vers 29, waar Hy vertel dat God selfs weet wanneer die mees waardelose van alle voëls op die grond val. Mossies was die heel goedkoopste van alle voëls wat op die markte in daardie tyd verkoop is. Twee van hulle was slegs een assarion werd, oftewel ’n sestiende van ’n denarius. 'n Denarius was die standaard-loon vir een dag se werk in die Romeinse Ryk. Dus kon jy vir ’n fraksie hiervan (oftewel vir 'n halfuur se werk in vandag se taal) twee mossies koop om te eet. Jesus verduidelik dat selfs hierdie goedkoop mossies vir God saak maak. Party Joodse rabbi’s in daardie tyd het soms vir mense herinner aan God se versorging van diere en hulle selfs opgeroep om vir die voëls van die hemel te bid, maar Jesus maak dit glashelder dat God se kennis en versorging van sy skepping baie gedetailleerd is. As Hy die geringste van die voëls raaksien, hoeveel te meer sal Hy nie vir sy kinders sorg nie.

Om sy punt nog verder te verduidelik van God se spesiale betrokkenheid by ons lewens, sê Jesus nou in Matteus 10:30 dat God al die hare op ons koppe getel het. God is in die detail. Hy is selfs in die hare-tel bedryf. Volgens The New World Encyclopedia: “the average human head (an average scalp measures approximately 120 square inches or 770 cm²) has about 100,000 hair follicles. Average hair loss is around 100 strands a day” (http://www.newworldencyclopedia.org/entry/Hair). Daar het jy dit! Van die sowat 100,000 hare op ons kop, verloor ons sowat 100 per dag. En God weet van elkeen! (Toemaar hy weet ook van diegene wie se hare reeds almal uitgeval het!)

God vergeet nooit van ons nie. Soms voel ons soos wat Anrie Smith in die gedig hieronder beskryf. Maar leer ook by haar om ook op God te wag. Leer by Jesus dat dit ons is wat die vergeetwerk doen, nie God nie. Kom ons lees weer Matteus 10:29-30 en onthou reg.

Here, hoe maak ek nou

As die lewe se storms my afknou?

As die branders my 'n kishou slaan

En ek net daar en dan wil vergaan

Wat help dit as ek roep

Dit bly woed in my gemoed

Ek wil nie deur die seer

Om nog iets te moet leer

Ek's klaar siek en sat en opgebruik

Niks en niemand kan my meer fnuik

Hoe werk dit liewe Heer

Is U dan regtig in beheer?

Maar ek kies om op U te wag

Selfs deur hierdie donker nag

Hoe moeilik dit ookal sy

Glo ek U bly altyd naby


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page