Skok hulle, soos wat Brexit en Ysland gedoen het!
top of page

Skok hulle, soos wat Brexit en Ysland gedoen het!


Toe gebeur Brexit! En toe wen Ysland regtig vir Engeland in die UEFA sokker kompetisie. Net so min as wat mense verwag het Brexit gaan gebeur, of dat ’n landjie met skaars meer as 300,000 sokkerspelers die magtige Engeland kan wen, net so min verwag mense dat Jesus se volgelinge anders dink, praat en optree. “Julle Christene is maar ewe hooploos en hopeloos as die res van ons,” sê ’n nie-kerklike op ’n dag vir my. Dalk was daardie persoon reg. Luister maar net na die inhoud van vele kerklikes se gesprekke, dan hoor jy dieselfde moedelose praatjies oor misdaad en werkloosheid. Net dit, niks anders nie. Toe ek ’n ruk gelede vir ’n klompie plaaslike kerkleiers vra om gou vir my te vertel wat God alles in hulle omgewing die afgelope week of twee gedoen het, kon niemand kon aan enige wonderwerk dink nie. Of aan mense wat tot bekering gekom het nie. Of aan armes en lydendes wat bygestaan is nie.

Ons kort dringende ’n dosis goeie geloofsmaniere. Ons kort daardie soort lewe waarvan Petrus in 1 Petrus 2:15 praat as hy sê dis die wil van God dat ons, deur goed te doen, ’n einde sal bring aan die onkunde van dwase. Ons moet met ander woorde wêreldberoemd raak in ons eie woonbuurt of kantoor vir ons geloofsmaniere. Dis hoe ons die wêreld andersom sal laat draai. Dis hoe God se wil sal gebeur - deur ’n lewe van goed doen, respek en liefde, soos wat Petrus ook in 1 Petrus 2:17 skryf. Gesonde geloofsmaniere begin by doodgewone maniere wat ons moet inoefen.

In ons dag groet niemand meer vir niemand nie. Respek vir ouer persone bestaan nêrens meer nie, en daardie woorde “asseblief" en “dankie" het in Noag se ark agtergebly. Goeie maniere moet natuurlik nie met geloof verwar word nie, maar tog het ons geloof alles te make met basiese beginsels soos respek, deernis en omgee. Kom ons leer by Jesus. Hy het soveel respek vir mense gehad dat Hy hulle gedien het met sy lewe. Vir armes, onreines, afgeskryfdes en sondaars het Hy soveel tyd gehad dat Hy saam met hulle geëet en gekuier het. Hy het altyd randfigure soos vroue en kinders raakgesien en hulle menswaardigheid aan hulle teruggegee. By Jesus moet ons leer om dieselfde te doen. Ons moet mekaar in sy Naam raakleef. Ons moet respek hê vir mense en God se beeld in hulle begin raaksien. Dan beoefen ons goeie geloofsmaniere. Dan veroorsaak ons weer sulke Brexit en Ysland skokke op die geloofsfront!


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page