Nederigheid
top of page

Nederigheid


Spreuke 6:16-17

Ek is seker dat jy ook al in jou lewe in iemand se teenwoordigheid was wat jou klein laat voel het. Nie klein omdat die persoon so groot is nie, maar, omdat hy of sy so belangrik is. Ons ken almal sulke baie belangrike persone. My pa het altyd gesê, dis nou as broodkrummeltjie troukoek geword het!

Ons lees in ons teksvers dat die Here sewe dinge haat. Hy sê sommer hy het ‘n afsku daarin. Die eerste ding wat God so ‘n weersin in het, is hoogmoed! Hoogmoed is nie ‘n pilaar van nederigheid nie. In Spreuke 11:2 lees ons dat om nederig te wees beteken dat jy ‘n wyse persoon is.

Hoogmoed straal deur mense se oë. Jy voel dit nie, jy sien dit. Jy sien hoe hulle neerkyk op jou. Jy beleef hulle hoogmoed deur na hulle oë te kyk in hulle harte in. Daardie gevoel van vernedering deur hulle oë, is vernietigend.

God haat hoogmoed. Ons lees in Jakobus 4:6 dat God hoogmoediges weerstaan maar dat Hy genade gee aan die wat nederig is. Ons hoef nie te sê wie ons is nie. God deel nie Sy spasie met ons nie. Nog erger, God deel nie eer met die van ‘n dwaas nie. Hoogmoediges is dwase wat dink hulle weet meer, kry meer, besit meer en wie weet wat nog. Hulle dwaasheid is hulle ondergang. God het nie tyd vir die wat hoogmoedig is nie.

Aan watter kant van hoogmoed staan jy? Straal jou oë hoogmoed uit en kyk jy neer op ander? Of sien mense die liefde in jou oë raak vir die geringstes, die stemlose, die hongeres, die eensames en die mense met niks. Nederigheid maak dat jy ander hoër ag as jouself. Jy gril nie vir die armes wat anders lyk en ruik as jy nie. Jy sien die vernedering in hulle oë raak en beleef die verskil wat aanraking en liefde maak aan hulle lewens. As jy wys wil optree, sal jy jou skoene van hoogmoed moet uitrek en moet afklim van jou uitkyktoring. Jy sal jou hande en voete moet vuilmaak en begin werk in die koninkryk van God. Wees nederig want wysheid en nederigheid loop hand aan hand saam met God en verheerlik Hom!

Gebed

Here, maak my U hande en voete in U koninkryk. Maak my elke dag ‘n mens wat in nederigheid wys sal optree!

Amen


bottom of page