Mik jy vir ’n godsdienstige Hollywood?
top of page

Mik jy vir ’n godsdienstige Hollywood?


Toneelspel is die grootste bedryf in die wêreld. Hollywood se sterre is superhelde. Hulle is meesters in die kuns van voorgee. Die hartseer is dat toneelspel nie net afspeel op film stelle of in teaters nie, maar ook in die alledaagse lewe. Selfs in die kerk speel mense soms die vroomste rolle. Hulle praat mooi woorde en bid vroom gebede, maar dis alles net toneelspel. Skyn-heiligheid noem jy dit in gewone taal. Skyn-heiligheid is om te maak of jy God se wil agterna leef. Skynheiligheid is ‘n rol wat jy tussen ander gelowiges vertolk, maar as jy op jou eie is, daar waar niemand anders jou sien nie, dan wys jou ware kleure. Nou ja - speel jyself ‘n godsdienstige rol wanneer dit jou pas, of is jy die ware Jakob? Die grootste bewys vir die egtheid van jou geloof is of jy die Here dien wanneer niemand anders jou sien nie. Doen jy goeie dinge in stilte sonder om enige erkenning daarvoor te verwag, soos wat Jesus in Matteus 6 vra? Wanneer jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, is alle toneelspel verby. Wanneer jy God dien en Hom aanbid sonder iemand dit weet en jou daaroor op die skouer te klop, dan doen jy reg.


bottom of page