B. A. Baracus -mannetjie
top of page

B. A. Baracus -mannetjie


Tot dusvêr het ek seker te veel gekla oor die slegte kant van pastorie-kind wees. Ja! daar was baie goeie tye en lekker tye. My 11de verjaarsdag was vir my baie baie baie spesiaal. My pa het my vroeg kom haal by die skool en winkels toe geneem. Ek het B. A. Baracus -mannetjie van die destydse A-Team gekry. Daardie oomblik by die winkel langs my pa sal ek nooit maar nooit vergeet nie. Vir ‘n oomblik was hy net by my en besig by my. Vir ‘n oomblik was hy nie die dominee nie, maar my pa! Vir ‘n oomblik het hy die tyd ‘uitgekoop’ en dit met my spandeer. Ons moderne mense is baie besig; werk langer ure omdat ons selfone en rekenaars en vonkpos en twitter ons gedurig met ons werk koppel. Die laaste Donderdag van elke maand en die laaste Dinsdag van elke maand gaan haal ek, onderskeidelik, my dogter en seun en spandeer die middag met hulle. Tyd is so kosbaar daarom sê Jesus gedurig in Joh. vir sy dissipels en volgelinge dat Hy nog net ’n klein rukkie saam met hulle op aarde is (Joh. 13:33).

Daardie Sondag tydens erediens preek my pa ‘n kinderpreek; ek kan nie die preek onthou nie maar my B. A. Baracus -mannetjie was saam met pa op die kansel. Ek was so trots gewees en gespog by my pelle dat dit myne is. Ons almal vorentoe geroep. Die kansel was so hoog en groot voor ons terwyl ons op die vloer sit, maar gelukkig het my pa afgekom van die kansel om met die kindertjies te praat. Deesdae is daar maar min kansels oor en sien ‘n mens gemeentes met verhoë. Ek weet nie of dit vir die band is nie of om dominee meer toeganklik te maak nie. Ek is altyd net so bang mense dink die gemeentes wat kansels het is minder ‘effektief’ in die koninkryk as die wat nie meer kansels het nie.

Na die kinderpreek is ons terug banke toe en tot nou toe weet ek nie wat gepreek of gesing was nie. Daardie Sondag het ek ook nie regtig omgegee nie want my pa, die dominee, het tyd gemaak vir my in die week en my pelle het gesien ek het ‘n B. A. Baracus -mannetjie!!!


bottom of page