Selfs op ashope skyn die Here se lig
top of page

Selfs op ashope skyn die Here se lig


Die Here werk soms op onverwagse maniere, soos wat dit met die Belg, Jozef de Veuster gebeur het. Hy is gebore in die jaar 1840. ‘n Klompie jare later het sy broer, wat ‘n priester was, siek geword toe hy in Hawai moes gaan werk in die Here se diens. Toe besluit Josef daar op die plek om sy broer se werk te gaan doen. In 1864 is Josef Hawai toe gestuur. Daar het hy ‘n priester geword en vir nege jaar diens gedoen. In 1873 het Damian, soos wat hy as priester bekend gestaan het, ingewillig om ‘n melaatse gemeenskap op een van die eilande te gaan bedien. Dit was ‘n groep van sowat 8,000 mense op ‘n afgeleë gedeelte van die Molokai eiland genaamd Kaluapapa. Damian is vooraf gewaarsku dat hy nooit weer sou kon terugkeer na 'n normale lewe toe nie. Nogtans het hy gekies om sy lewe te spandeer in diens aan hierdie melaatses. In hierdie tyd het hy 'n paar hospitale, klinieke, twee weeshuise en skole gebou. Uiteindelik het hyself rondom 1884 die gevreesde “Hansen’s Disease” (of melaatsheid, soos wat in die volksmond daarna verwys word) opgedoen. As ‘n 49 jarige sterf Damian op 15 April 1889 in die Here se diens. Sy lewe van selflose diens, harde werk en eindelose opoffering het hom sy dood gekos. Maar Damian se geloofsgemeenskap daar op die eiland het by hom gehoor dat splinternuwe lewe by God op hom wag. Sy visie van God se nuwe wêreld het gemaak dat hy in een van die mees stukkende dele op aarde, wat deur vele as ‘n “menslike ashoop” beskou is, die lig van die evangelie helder laat skyn het.

God se mense sluit ook die vergetenes, die afgeskryfdes en die onbelangrikes van hierdie lewe in. Gaan dien in hierdie week een of twee van hulle. Nee, jy hoef nie na die Molokai eilande toe te gaan voordat jy dit kan doen nie; wees net die Here se sout en lig daar in jou eie omgewing. Doen net iets in Sy Naam. Deel 'n beker koue water uit. Dra iemand se las. Loop myl twee saam met iemand. Maar wees net aanwesig in Jesus se Naam, en seën iemand soos wat Hy van jou vra in Romeine 12.


bottom of page