Liefde, Seks & Verhoudings: Wat sê die Bybel hieroor? [resensie]
top of page

Liefde, Seks & Verhoudings: Wat sê die Bybel hieroor? [resensie]


Nadat Ma vir lank aanhou neul het oor Pa nie sy plig teenoor Boetie nakom om vir hom van bytjies te vertel nie, gaan sit Pa en Seun uiteindelik in die Wimpy en oor ‘n koppie koffie sê Pa: “Jannie, Pa wil met jou oor … seks praat.” Waarop Boetie antwoord: “Wat wil Pa weet hieroor?”

Ons jongmense weet van seks, van ‘n jong ouderdom af. Soms dink ek hulle weet meer as party van hulle se ouers! En hulle leer dit meestal nie by hulle ouers nie. Trouens, die maats met wie hulle inligting uitdeel, verstaan soms baie goed hoe die biologiese en fisiese van die seksuele daad verloop. Probleem is: die inligting kom meestal sonder enige waardestelsel.

In elk geval is die kerk hopeloos gedateer en outyds om seks voor die huwelik af te maak as sondig. Dit was dalk so voor daar effektiewe voorbehoeding was, maar vir watter goeie rede sal ‘n mens wag tot jy getroud is?

Dit is hier waar dié boekie inkom, omdat dit kers gaan opsteek wat vir Christene allerbelangrik is, in die Bybel. En het die Bybel nie ‘n baie besondere woord hieroor vir gelowiges nie! Seks is baie spesiaal gemaak deur die Skepper en daarom is dit vir Hom belangrik dat ek en jy sal weet hoe om dit te beskerm.

Die skrywer gaan kyk oor die skouer van Bybelse figure soos Josef, Jakob en Ragel, Simson, Ester en Vasti en vertel jou watter seksuele versoekings hulle pad langs gekom het. En jy vind uit: daar is nie soveel wat in ons dag nuut is nie.

Jy leer hoekom dit die moeite werd is om te wag, wanneer om te vlug en watter rol jou vriende speel in hoe jy met seks omgaan. Jy leer die pad van vernietiging herken, hoe een daad tot ‘n volgende lei, wat om te doen as jy gesondig het, wat om met onbehoorlike voorstelle te maak en watter rol liggaamlike skoonheid speel. Jy lees van seks wat te koop aangebied word, van seks met familielede en van mense met homoseksuele neigings. En jy leer ken ‘n hele klomp mense in die Bybel wat direk tot jou situasie spreek.

Anniéria is ‘n Wes-Kapenaar met ‘n hart vir jongmense wat al talle trefferboeke vir jongmense geskryf het. En ook met hierdie een koop jy goeie waarde vir geld. Rus die kind in jou lewe toe met Bybelse waardes!


bottom of page