God onthou! Of dalk nie alles nie
top of page

God onthou! Of dalk nie alles nie


Dikwels as mense te na gekom word, vertel hulle dat God die skuldiges sal terugkry. Dan hoor jy gewoonlik opmerkings soos: “die Here slaap nie!” of: “God onthou.” Daarmee bedoel hulle dat God ’n langtermyn-geheue vir straf en terugkry het. Hy onthou dinge teen mense. Wel, die korrekte Bybelse feit is dat God soms nie so ’n langtermyn-geheue het soos wat mense dink nie. Soms vergeet Hy. Dit vertel Hyself in die Bybel. In Psalm 103 hoor ons dat die Here gelowiges se sondes so ver verwyder soos die Ooste van die Weste van mekaar af is. Jesaja vertel dat Hy ons sondes in die diepste see gooi en nooit weer daaraan terugdink nie. Anders gestel, God ly aan amnesia of geheueverlies as Sy kinders hulle oortredings in Christus se Naam aan sy voete neersit. Hy vergewe en vergeet. Die hemel het nie stoorplek vir sulke sondes nie. Om dus te sê God onthou mense se oortredings is net ’n halwe waarheid. Eers op die laaste dag sal Hy noodgedwonge sy vyande se oortredings in herinnering bring, maar God is die God van genade wat verkies om te vergeef eerder as om te straf.


bottom of page