Wat gaan ek nalaat? Wat maak ek met die aflosstokkie?
top of page

Wat gaan ek nalaat? Wat maak ek met die aflosstokkie?


Dit waaraan ek ‘n leeftyd gewerk het, kan oornag verbrand as ek dit nie deur diefstal of grondeise verloor nie. Dan gaan my dierbares in elk geval niks daarvan kry nie. Maar dit wat ek deur voorbeeld, raad en daad in ander deponeer, kan vir geslagte ‘n verskil maak.

So het Henrietta Mears aanvanklik deur Sondagskool vir kinders én volwassenes, en later deur Gospel Light International ‘n geestelike nalatenskap in die lewe van bekende Christene gelaat: onder andere Billy Graham, Bill and Vonette Bright can Campus Crusade for Christ en die Amerikaanse Senaat kapelaan Richard Halverson.

Ons kan nie mense se lewens verander nie; dis God wat die groei gee, groei wat geslagte wat kom, kan beïnvloed. Ons verdien nie beloning hiervoor nie, maar die Here gebruik ons en bederf ons soms op aarde al wanneer ons kan sien/hoor hoedat iemand met die aflosstokkie hardloop en dit selfs aangee. So was Brink bevoorreg om vir ‘n aantal jaar ‘n manne-Bybelstudiegroep in Suid-Afrika te kon lei. Uit hierdie groep het een ‘n voltydse personeellid van Campus Crusade for Christ in Rusland geword (en een maal ‘n jaar kom verslag lewer oor ons Russiese “kleinkinders”), een het ‘n multimedia-bediening begin wat baie mense se lewens positief geïmpakteer het, en ‘n ander het in ‘n leiersrol in ‘n Christelike organisasie ingestap.

Daar is so baie voorbeelde in die Bybel. Andreas vir wie Jesus geroep het en wat so ewe vra: “Waar gaan U tuis?” maar wel vir Petrus nader trek. So het Filippus weer vir Nataneal nader getrek – ‘n man vir wie Jesus reeds onder die vyeboom sien sit het, tot in sy hart gekyk het en ‘n man sonder bedrog gesien het.

Ek hoef nie groot skares te gaan toespreek nie – ek hoef slegs een persoon se lewe met my voorbeeld en getuienis aan te raak en so ‘n skakel word in ‘n magtige kettingreaksie wat God aan die gang sit en geslagte daardeur aanraak.

Ragab, ‘n prostituut, het gekies om God se pad te stap en word toe Rut se nuwe skoonma in die Beloofde Land (Matteus 1:5). Dit nadat Naomi vir Rut, die volksvreemdeling, in haar hart geneem het en vir haar aan die God van Israel voorgestel het en saamgeneem het terug Israel toe. Rut was bereid om die onbekende in te gaan en agter Boas se diensknegte te gaan koringare optel – en God het haar geseën met ‘n Dawid-kleinkind en ‘n nageslag waaruit Jesus gebore is.

Deur dit alles heen moet ek nooit vergeet waar my vermoëns en seëninge vandaan kom nie en mag ek nooit die doel met daardie gawes uit die oog verloor nie, nl. om mense se lewens aan te raak en hulle te beïnvloed om nader aan God te wil leef – om die kosbare aflosstokkie van ewige, oorvloedige lewe wat God aan my toevertrou, oor te gee aan ander.


bottom of page