Help my, my brein het aan die slaap geraak
top of page

Help my, my brein het aan die slaap geraak


“Help my, ek slaap dikwels in die kerk,” sê iemand. “Wel, dis minstens ook ’n opinie,” waag ek dit. Feit is, oorbekendheid lei soms tot verveeldheid. Die Here het aan ons almal ’n brein in werkende toestand gegee. Een van die funksies van hierdie fenomenale orgaan is om “kopkaarte” of “maps” te maak wat ons lewe voorspelbaar en veilig maak. Van kleins af rig ons brein ons af hoe om te dink, te voel en op te tree. Op dié manier spaar dit sommer ook energie. Trouens, ons brein is die “oorspronklike Eskom” wat op beurtkrag probeer oorleef. Daardie 23-25 watt se energie wat op enige gegewe oomblik vir die brein beskikbaar is, moet sinvol en spaarsamig aangewend word. Een van die brein se voorkeur maniere hoe om dit te doen, is om ons te laat dagdroom. Geleerdes bereken ons dagdroom tot soveel as 46,9% van die tyd. Nee, dagdroom is glad nie sleg nie. Dagdromery aktiveer verskillende areas van ons brein en wakker ook kreatiwiteit aan. Maar wanneer verveeldheid en oorbekendheid die rede is vir ons kerklike dagdromery, dan is ons in die moeilikheid.

Wanneer ons eie geloofshandelinge so oorbekend raak dat ons onsself selfs aan die slaap kan bid en dat preke ons gunsteling dagdroom-tyd is, dan is dit hoogtyd dat ons ons kop in God se teenwoordigheid herbesoek. Die Here het bedoel dat ons geloof nie net ons hart moet verander nie, maar ook ons kop. Paulus se woorde in Romeine 12:2, dat ons moet toelaat dat God ons denke verander sodat ons Sy wil mag ken, is steeds waar. Paulus bedoel hier dat God se wil geopenbaar word aan mense met nuwe koppe wat herbedraad is om Hom reg te hoor, te sien, te luister, te leer, te praat en te doen!

As ons die wil van God opnuut en vars in ons eie lewe wil leer ken, dan moet ons ons kop van voor af vir Hom gee. Ons moet toelaat dat Hy ons denke verander. Hier's 'n paar praktiese riglyne om ons hiermee te help:

* Besoek elke week 'n paar Bybelgedeeltes wat jy nog nie tevore gelees het nie, of waaroor jy nog nie indringend nagedink het nie.

* Praat korter, maar meermale elke dag met die Here.

* Sien God raak op plekke en in mense waar jy Hom nie tevore opgemerk het nie.

* Omring jou met kreatiewe gelowiges wat nuwe skatte uit die Here se Woord opdiep en wat nie net vasval in die hersirkulering van flou of oorbekende kerktaal nie.

* Lees goeie boeke wat jou dwing om vars te dink.

* Pak jou kritiese ingesteldheid weg en maak elke dag ruimte vir verwondering in jou lewe. Sien iets groot en mooi in God raak, asook iets mooi in mense se lewe. O ja, en sê dit ook vir hulle.


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page