Hoe leer ek my kinders om te gee?
top of page

Hoe leer ek my kinders om te gee?


‘n Kollega van my het op Goeie Vrydag 'n klomp paaseiers by 'n ouetehuis gaan aflewer. Sy wou dit net by ontvangs aflaai. Die matrone het egter vir haar en haar dogtertjie gevra om liewer self die paaseiers te gaan uitdeel, aangesien daar so baie eensame mense is. Sy sê hulle was toe vir 'n lang ruk daar en dat hierdie ondervinding vir haar dogtertjie baie meer beteken het as 'n preek.

Ek glo dat dit die wil van God is dat gesinne Sy hande en voete hier op aarde moet wees. Kinders moet in hulle ouerhuise leer dat ons die kerk van Christus is. Ouers moet dit daarom ook aan hulle kinders modelleer. As ouers wys dat hulle omgee vir ander mense, sien die kinders dit en doen dit ook. Dit gaan nie so goed met ons land op politieke, sosio-ekonomies en godsdienstige gebied nie. Ek glo dat gesinne wat met Jesus se liefde omgee vir ander, ons hele land kan verander. Gesinne wat omgee, kan myns insiens lei tot 'n herlewing.

Wat keer dat ons na ander uitreik? Die lewe is gejaagd en mense is selfgesentreerd. Mense het verkeerde prioriteite. Ouers is dikwels so besig met hulle beroepe en hulle kinders se aktiwiteite, dat hulle nie tyd het om uit te reik na ander nie. Party mense gee bloot nie om nie, omdat hulle nog nie hulle lewens vir die Here gegee en Sy brandende liefde vir mense in nood nog nie ervaar het nie.

'n Gesin wat omgee vir ander, se harte, huis en beursie is oop vir ander mense. So 'n gesin huiwer nie om iemand wat verblyf nodig het in hulle huis te neem en terwyl die persoon daar tuisgaan, hom/haar met Jesus se liefde te bedien nie. So 'n gesin sal op materiële gebied bydra om ander mense se lewe te vergemaklik, met geld, kos, klere en ander benodigdhede. 'n Omgee-gesin sal nie net geken word aan die hulp wat hulle verleen aan mense in nood nie, maar ook die deernis, respek en liefde wat hulle aan ander betoon.

Telkens word dit bewys dat kinders baie baat by ervaringsleer. Vriende van ons het een jaar saam besluit dat hulle nie Kersgeskenke sou kry nie, maar elke kind sou vir 'n maatjie in 'n plakkerskamp 'n geskenk koop. Nadat die seun reeds vir 'n maatjie 'n geskenk gekoop het, vra hy vir sy pa of hy nog geld kan kry. By navraag blyk dit toe dat die seun 'n pop wou koop! Waarom? Die seuntjie vir wie hy 'n geskenk gekoop het, se sussie het nog nooit in haar lewe 'n pop gehad nie.


bottom of page