Die probleem: ons word volwasse
top of page

Die probleem: ons word volwasse


Die probleem met ons is dat ons grootword. Nog erger, ons word volwasse (dalk eerder vol-wasse!). Dan bly ons groot met al daardie “wasse” waarvan ons so vol is! G’n wonder nie dat Dr Seuss sê: “Adults are obsolete children!” Grootmense is anders as kinders. Grootmense het min vrae, maar baie antwoorde. Ons het die lewe uitgesorteer. Kinders, daarenteen, het baie geleenthede én baie vrae. Hulle is leergierig. Hulle wil alles weet.

Van vrae gepraat, die Engelse koerant, The Telegraph, vertel ’n ruk gelede van ’n nuwe studie wat bevind dat die gemiddelde Engelse ma meer as 300 vrae per dag moet beantwoord in die geval van vierjarige dogtertjies. Hulle is die mees aktiewe vraestellers van almal. Teen ouderdom nege het seuntjies se vrae darem al verminder na so 144 per dag. Grootmense is meer beskeie – of geïnhibeerd - as dit by vrae kom. Ons vra so ongeveer 6 vrae per dag. Grootmens-wees kos ’n prys, ook in wat ons geloof betref. “Volwasse” Christene doen dinge graag veilig en voorspelbaar. Alles in ons geloofslewe moet beheerbaar en gereguleerd wees. Daarom sê Jesus ’n paar keer ons moet weer kinders word. Ons moet agteruit grootword.

Met name sê Jesus in Matteus 18 dat as ons nie verander en weer kinders word nie, sal ons nooit die koninkryk van God sien nie. Egte groei vir Jesus se volgelinge gebeur agterstevoor. Groei maak ons kleiner. Dit maak dat ons opnuut in onbelangrike dinge vreugde ontdek. Dit maak ons sorgvry. Dit maak dat ons nie meer ons groot ego’s in stand hoef te hou wat “gevoer” moet word deur vleitaal, aandag, komplimente, posisies en besittings nie. Wanneer ons naby Jesus loop, groei ons kleiner en ander mense rondom ons groter. Dan word Paulus se woorde in Filippense 2:5 waar: dat ons begin opkyk na medegelowiges. Dan sien ons God se handewerke in ander mense raak. Dan is dit nie meer so moeilik om ander te dien nie, want ons sien hulle deur twee nuwe oë.


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page