Dalk moet dominees meer foute maak!
top of page

Dalk moet dominees meer foute maak!


Dis einde van die jaar by die skool en dis rapporte tyd! In die ou dae het ons darem die rapporte gekry voor die einde van die kwartaal, maar deesdae kry die kinders hulle rapporte eers na die vakansie. Dis soos om in die middel van die maand by Spur te eet en eers aan die einde van die maand te betaal; die kinders speel eers en daarna volg die pakslae. Wag, hulle kry mos nie meer slae nie-g’n wonder die toekoms lyk so “rooskleurig “vir Suid-Afrika nie!

Terug na daardie skoolrapport; terwyl ek bewerig by my pa staan en wag dat hy my rapport teken, sien ek hoe die “old-timer” op verkeerde plek teken. Ek doen niks toe dit gebeur nie. (Dink jy vir een oomblik ek gaan vir my pa sê hy teken op verkeerde plek!?) Toe is ek terug skool toe met die verkeerd-getekende rapport. Soos juffrou ons name een vir een uitroep is dit ook my beurt. “Geleerde mense wat op verkeerde plekke teken!” was haar klipharde skerp opmerking toe sy sien wat gebeur het.

Juffrou ‘laaik’ my al lankal nie want pa is die dominee en pa het hulle Mercedes Benz misgekyk! Dalk was dit my pa se grootste probleem. Die rykmense in ons gemeente hou nie daarvan dat die dominee hulle miskyk nie. Hulle verdien darem meer aandag as ander. Dis altyd die sleg van ‘n gemeente; daar’s ryk mense en arm mense. Dalk sou pastore en dominees dit makliker gehad het as almal arm was of as almal ryk was. My pa het altyd gesê Jesus het by die armes en die smokkelhuismense gaan sit en gesels; dit was ‘sy crowd’.

Nee, ek dink nie God het iets teen rykmense nie; ons het rykmense nodig om die ekonomie ook aan die gang te hou. Ek dink dis vir God belangrik wat mense doen en hoe hulle leef as hulle sukses behaal het. My pa het ‘n fout gemaak om op verkeerde plek te teken en die juffrou het dit ‘gelaaik’ om voor almal in die klas te skreeu dominee het ‘n fout gemaak. Hoekom is dit vir mense en vir die Rapport s lekker as ‘n dominee ‘n fout maak? Is dit omdat hulle dan nie meer so erg voel oor die foute in hulle eie lewens nie? Of dalk is dit oor die skynheiliges lewens van sommige bedienaars? Ek weet nie; al wat ek weet is dat Jesus ook kwaad geword het in Johannes 2 by die tempel. Ons lees van sy menslikheid l hier. Wie weet, dalk moes Jesus ook meer foute gemaak het, dalk moet ‘n dominee meer foute maak.. Wat’s ‘fout met foute’?


bottom of page