Jy leef te vinnig om God langs die pad raak te sien
top of page

Jy leef te vinnig om God langs die pad raak te sien


Dis hartseer om te sien hoe mense hulle liggame voortdryf teen ‘n duisel wekkende spoed van dag tot dag, week tot week en maand tot maand sonder om in ag te neem die skade wat hulle hulself en hul gesinslede aandoen. Hoeveel ouers kom in die aande eers tuis wanneer die kinders reeds slaap en val doodmoeg op die bed sonder enige energie om met hul huweliksmaat ‘n paar woorde te kan wissel. Die volgende dag verloop dieselfde en ook die dag daarna. ‘n Huwelik wat kantel, en probleme wat ontstaan by die kinders, maak dikwels hul verskyning weens jou langdurige afwesigheid by die huis.

Die menslike liggaam is egter nie gemaak om so ‘n pas enduit te kan volhou nie. Jy werk deur jou etenstye met die gevolg dat jou liggaam nie die nodige voedingstowwe inkry nie en is ernstige kwale jou voorland. Dit is ook bekend dat langdurige stres baie nadelig vir jou is.

God het elkeen van ons geseën met ‘n wonderlike liggaam wat ons moet oppas en versorg want elkeen se liggaam is ‘n tempel: ”Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle” (1Kor.3:16-17). Om na ons liggame te kyk, beteken dat ons nie onredelike eise aan ons liggame sal stel, soos langdurige stresvolle situasies, of uitputtende lang werksure waarin ons nie tyd het om in teenwoordigheid van God te verkeer nie. Paulus sê in 1 Tim.4:7-8 “Bestee jou tyd en energie daaraan om jouself te oefen tot geestelike fiksheid. Liggaamlike oefening het wel waarde, maar geestelike oefening is baie belangriker, want dit hou die belofte in van beloning, sowel in hierdie lewe as in die volgende (NLV).

Stephan Joubert het in VRYGESPREEK, CUM, 2004 p. 75 opgemerk dat as jy dagin en daguit teen ‘n gevaarlike spoed leef, jy die gevaar loop om God se stem nooit na behore te hoor nie en moet jy stadiger leef om God se stem te kan hoor. Hy wag dat jy vir Hom geleentheid sal skep om Hom jou onverdeelde aandag te gee deur ‘n slag jou selfoon af te skakel, ‘n afspraak te kanselleer, jou deur te sluit en Sy genade volle woorde te hoor. Sukkel jy reeds lank met jou permanent oorlaaide dagprogram en jy het geen oplossing daarvoor sowel as vir die verhoudingsprobleme wat daaruit ontwikkel het nie? Weet dan dat jou hemelse Vader vir jou sorg en dat Hy weet wat jy nodig het (Matt 6:25-34).


bottom of page