Fake nuus of Goeie Nuus?
top of page

Fake nuus of Goeie Nuus?


Ons leef in die tyd van fake nuus. Mense stuur gedurig vir mekaar boodskappe rond wat later ontbloot word as stok-ou inligting óf die produk van iemand se twyfelagtige verbeelding. Onlangs het daar ‘n fliek uitgekom wat die gevaar van fake nuus ontmasker het. Ek praat van die rolprent Spiderman: Far from Home. Behalwe die gewone temas wat gewoonlik deel uitmaak van ‘n superheldverhaal – soos die geveg tussen goed en sleg, die opofferende prys wat die held betaal om mense te help – handel die hooftema oor die gevaar en intense vlak van misleiding wat veral vandag deur tegnologie moontlik gemaak word.

Sonder om enige belangrike spoilers aangaande die fliek se plot kwyt te raak, handel die prent oor ‘n tegnologiese genie wat homself voordoen as ‘n superheld. Hy doen dit deur valse scenarios te skep deur middel van drones met geweldig effektiewe digitale en audio-visuele effekte. Hierdie vals superheld noem homself Mysterio. Hy is so effektief in die produsering van valse scenarios dat hy selfs in die buitelug ‘n suksesvolle (maar vals) indruk kan skep dat ‘n euwel gedierte byvoorbeeld ‘n dorp bedreig en dan daag hyself kastig op om die gedierte te oorwin. Alles is egter vooraf digitaal geproduseer en opgeneem en word deur die drones so effektief voorgehou dat dit vir alle toeskouers geheel en al eg voel. Mysterio kan ook valse personas aanneem en homself voordoen as iemand anders.

Terwyl die kyker sy aandag dus op die silwerdoek fokus, weet niemand later meer wie eg is en wie of wat vals is nie. Wat is waar en wat is bloot valse skeppings? Die ironie is dat hierdie vals superheld later sy misleidingstegnieke suksesvol gebruik om die ware superheld in die fliek – Spiderman – valslik te beskuldig van misdade wat hy nie gepleeg het nie. Die valse held beskuldig dus die ware held van valsheid!

Die fliek laat jou dus die vraag vra na wat werklik eg is in die lewe. Wat is eg en wat is vals? Dis soms moeilik om te onderskei, veral vandag. Dit tel ook aangaande geloof en die Bybel. Hoe weet ons wat is eg en wat ons kan glo? Bestaan God werklik? Kan die evangelies vertrou word met wat hulle sê oor Jesus? Baie mense – net soos Mysterio – maak Jesus verdag en sê ons maak te veel van Hom. Jesus was net ‘n mitologiese figuur en sy opstanding was slegs ‘n mitologiese metafoor. Dis ‘n mooi storie waaraan mense vashou om die swaar lewe mee te hanteer. Waarom moet ons dus die Bybel glo?

In Johannes se tyd was daar ‘n groep vals leraars wat byna dieselfde dinge gesê het oor Jesus se koms na die aarde. Jesus was nie werklik liggaamlik hier op aarde nie, het hulle gesê. Hy was slegs geestelik hier. Eintlik dien Jesus dus net as metafoor.

Johannes staan egter nie vir hierdie nonsens nie, daarom begin sy eerste brief met die volgende woorde (1 Johannes 1:1-2):

Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is.

Daar hoef by mense geen twyfel te wees nie, verseker Johannes ons. Wat ons oor Jesus geleer het is eg en waar. Johannes het nie hierdie oortuigings op hoorsê bekom nie. Hy was self daar. Hy het Jesus na sy opstanding gesien met sy eie oë en met sy eie ore na Hom geluister! Hy het saam met Jesus geëet en gesels. Trouens, Jesus is die enigste egtheid waaraan ons kan vashou sonder enige permanente en verlammende vorm van twyfel.

Twyfel gerus oor enige iets anders as jy wil. Maar Jesus? Jesus het opgestaan.

Hy is ég. Hy is die Lewe!

Die nuus oor Hom is nie fake nie, maar góéd!


bottom of page