Ons is genooi
top of page

Ons is genooi


Wat ‘n geboorteplek vir die heelal se Heer! Ek praat van daardie eenvoudige voerbak vir diere waarin Hy grondgeraak het hier tussen ons! En wat ‘n feestelike ontvangs! Ek praat van die herders wat daardie nag opgedaag het as eregaste kort na Jesus se geboorte. Nee, herders was in daardie tyd lankal nie meer helde soos in die tyd van koning Dawid nie. Hulle was toe as so onbetroubaar beskou dat hulle nie eens in ‘n Joodse hof as getuies toegelaat sou word nie. Nogtans verskyn hulle name heel bo aan God se uitnodigingslys na sy Kind se feestelike aankoms hier in ons wêreld. Hule is genooides na die nederige aankoms-saal van Jesus hier op aarde. Jy en ek ook. Saam met die herders is ons ook aanhoorders van die engele se feesmusiek daar bokant Betlehem. Dit vertel dat God se vrede uiteindelik hier op aarde gewen het. En dat redding vir die wêreld aangebreek het. Jesus het gekom. Hy het aangeland. Hoop wen. Hemelse vrede triomfeer, ook al moor mense mekaar uit en al skakel almal alle hoop af. Kom sing saam. Daar’s hoop! Die voordeur na God se nuwe wêreld staan wawyd oop. Jesus het dit vir jou en my kom oopmaak. Ons kan saam met Hom feesvier. Ons kan saam met die engele sing: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy groot geluk en blydskap vind.”


bottom of page