Skaakmat!
top of page

Skaakmat!


Die wêreld- skaakkampioenskappe het sopas geskiedenis gemaak. Twee mans het tydens die afgelope drie weke twaalf wedstryde lank geveg om die titel as wêreld- skaakkampioen vir 2018 te verower. Elkeen van die twaalf wedstryde het egter in ʼn gelykop-spel geëindig.

Magnus Carlsen van Noorweë en Fabiano Caruana van die VSA het ʼn hele dosyn kere “gedraw”. Die gevolg was dat hulle met “rapids” moes voltrek wie die kampioen is. Dit is ʼn skaakspel waarin daar baie minder tyd vir elke speler gegun word. Elkeen van die twaalf spelle is in die geskiedenis opgeteken – en elkeen het in hierdie twaalf geleenthede die kans gehad om ʼn wedstryd te wen en die kampioen te word.

Magnus Carlsen het egter as die 2018 kampioen uitgetree nadat hy in die “rapids” as veroweraar uitgeblink het. Dit is die eerste keer wat die wêreldkampioenskappe soveel gelykop tellings gehad het voordat ʼn wenner uiteindelik geïdentifiseer is.

Soms kry ons die indruk asof God en die Bose in ʼn soortgelyke kampioenskap betrokke is. Veral in flieks word die stryd tussen Goed en Kwaad uitgebeeld asof elkeen so byna-byna die opperhand kan kry. Dit is egter nie hoe die Bybel praat oor Jesus nie. Die Bose het nie ʼn kat se kans gestaan teen God se liefde vir ons nie. Geen “rapid” was nodig om te bepaal Wie die Oorwinnaar is nie. Geen dood of lewe of engele of bose magte het ʼn kans om ons te skei van God se liefde nie. Nog steeds nie (Romeine 8:31-39). Dit wás nooit ʼn moontlikheid dat die Bose kon wen nie.

Dit is wat ons met Kersfees vier. God se liefde was van die begin af bestem om te wen. Daar is nie ʼn “draw” ter sprake nie. Want Jesus het opgestaan.

Ook in jou lewe is dit die geval. Magnus Carlsen moes sopas baie hard baklei om as oorwinnaar in die skaakwêreld uit te tree. Maar Jesus het reeds opgestaan om te verseker dat liefde wen. En jy saam met Hom.


bottom of page