Jy sal beter voel as ...
top of page

Jy sal beter voel as ...


Hanna se behoefte aan ‘n kind was so intens dat sy letterlik aanhoudend by die altaar van die Here gaan bid het. Dan lees ons in 1 Sam 1: 13: Omdat Hanna in haar hart met die Here gepraat het en net haar lippe geroer het sonder dat haar stem gehoor kon word, het Eli (die priester) gedink sy is dronk. Wanneer hy haar konfronteer met haar “dronkenskap”, deel sy haar hart se ontsteltenis met hom. Ons hoor dan hoe hy die Here se seën oor haar uitspreek en sy daar weggaan met ‘n ligter gemoed.

Hanna het twee goed gedoen om beter te voel. Sy het haar hart voor haar God uitgestort en sy het haar pyn met ‘n betroubare persoon gedeel. As jy dalk met iets groots worstel, moet jy weet dat jou Vader met groot deernis na jou hart se versugtinge luister en jou met sy liefde en goedheid toevou. Maar jy sal ook beter voel as jy jou ontsteltenis met iemand deurgepraat het. Iemand wat dalk net kan luister en kan sê: “Ek bid saam met jou dat God vir jou sal gee wat jy Hom vra.”

Moenie probeer om jou pyn alleen te verwerk nie. Jy’t ‘n Vader en hopelik ‘n iemand wat jou daarmee wil help.

Here, dankie dat U my hart hoor. En verstaan.


bottom of page