Vermy binnegevegte
top of page

Vermy binnegevegte


Stephan Joubert skryf in sy nuutste artikel oor die Heilige Gees en om binnegevegte te vermy.
Vermy binnegevegte

Konflik is ‘n onnodige maar lastige probleem in die kerk. Soms is dit direk, openlik en ander kere weer onder die oppervlak, latent. Daar’s te veel hiervan in kerklike kringe. Dit hoort nie tussen Geesgevulde mense tuis nie. Nee, Christene hoef nie altyd saam te stem nie. Dis vals. Mense verskil een of ander tyd. Maar die vraag is hoe ons verskil. Gee ons aan mekaar ruimte om ons opinies te lug en op ‘n geestelik volwasse manier vir mekaar te sê ons stem nie saam nie? Of gaan ons ondergronds met ons verskille en beskinder en beswadder mekaar agteraf?

Waar die Gees werk, daar is deursigtigheid aan die orde van die dag. Daar praat ons oop en eerlik met mekaar. Daar word verskille uitgepraat en ook weggepak. Daar sê ons hoflik vir mekaar as daar dinge is wat krap. Ons doen dit nie agter mekaar se rug by ander mense nie. Die Gees duld nie sulke kwaadstokery nie. Hy verdra ook nie daardie rugstekery en hof-toe-slepery, wat in die Korintiërgemeente kop uitgesteek het, nie. Die Gees se handtekening oor ons almal se lewens is die liefde, Jesus se soort wat vergewensgesind en vol deernis is. En wat graag boeke toemaak teen mekaar. Jy en ek moet ons juis hiervoor beywer. Ons moet keer dat Christene mekaar byt en wil opeet. Ons moet die Gees se amptelike vredemakers wees.

Gebed Laat my vandag opnuut aanmeld in u vredespan, Heer Jesus. Amen

bottom of page