Trek die voorskoot aan!
top of page

Trek die voorskoot aan!


In haar nuutste My Lewe nuusbrief, skryf Helena Smith oor wat Jesus ons in Johannes 13 leer oor diensbaarheid.
Trek die voorskoot aan!

O die luukse gevoel om in ‘n weelderige hotel in te stap… Ek was nog nie baie keer in so ‘n hotel nie, maar iets wat vir my fantasties is, is daardie dik, wit japonne en die bypassende pantoffels. As ek dit aantrek, voel ek skatryk! Dit voel vir my asof ek net die telefoon kan oplig vir kamerdiens en verder kan ek terugsit en ontspan.


Dit is menslik om op jouself te fokus. As ons egter na Jesus se lewe kyk en soos Hy wil lewe, is dit nodig om die snoesige kamerjas uit te trek en eerder self die kamerbediende te word. In Johannes 13 lees ons van die gebeure op die Donderdagaand voor Jesus se kruisiging. Jesus en sy dissipels is in die bo-kamer van ‘n huis, gereed om te eet. In plaas van om vir Sy dissipels vir ‘n laaste keer te preek, doen Jesus vir hulle ‘n praktiese demonstrasie. Die dissipels was gedurig aan die stry oor wie die belangrikste was. Jesus se laaste “preek”, is toe ‘n les in nederigheid. Hy tel ‘n doek op, neem ‘n waskom en begin om sy dissipels se voete te was. Jesus het reeds op daardie stadium geweet dat Hy verraai en gekruisig sou word, maar Hy fokus nie op sy eie leed nie. Hy verkies om te dien.


Ons leef in moeilike en onsekere tye. In hierdie tyd moet ons nie agteroor sit en wag dat ander ons help en bedien nie. Ons moet, soos Jesus, ander mense bo onsself stel en elke dag aan onsself sterf. Dit is ‘n keuse wat ons elke dag moet maak. In Johannes 13:14 en 15 lees ons dat Jesus sy dissipels aangemoedig het om mekaar se voete te was.


Dit is belangrik dat ons nie net mense dien waarvan ons hou nie, maar ook daardie mense wat jou irriteer of wat jou dalk al seergemaak het. Jesus het, toe Hy aan die kruis gehang het, by God ingetree vir sy vervolgers.


My dogter en haar man werk in ‘n township naby Paarl. Sy vertel my sy het in die grendeltyd ‘n belangrike les geleer. Sy het gesien hoe arm mense, wat net ‘n bietjie kos gehad het, hulle bietjie met ander armes deel.


Dalk gaan dit nie goed met jou op die oomblik nie. Miskien is dit egter tyd dat jy so ‘n bietjie van jouself vergeet en op ander mense fokus. In sy boek, The end of me, skryf Kyle Idleman:

“The healthiest thing you can do in rugged waters is to serve others.”

© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page