Tel jou woorde, tel hul een vir een
top of page

Tel jou woorde, tel hul een vir een


In sy nuutste midweek Goeie Nuus, skryf Stephan Joubert oor mondsondes.
Tel jou woorde, tel hul een vir een

Onthou jy die woorde van die bekende Christelike lied: “Tel jou seëninge, tel hul een vir een.” Dalk moet ons hier in 2021 nog ‘n versie byvoeg:

Tel jou woorde, tel hul een vir een!”

Om een of ander rede meen sommige mense dat “mondsondes”, soos kwaadpraat, goor taal en skinder nie so ernstig is soos daardie eintlike “groot sondes” soos owerspel, korrupsie of dronkenskap nie. Daar is al wie weet hoeveel kerklike verslae opgestel oor die jongste openbare sondes van die dag. Maar, vreemd genoeg, beskou godsdienstiges dit nooit eintlik as ‘n ramp, wanneer mense orals van mekaar kwaadpraat of mekaar met hulle skerp tonge aan flarde skeur nie. In hierdie tyd van Corona lyk dit asof baie Christene geen brieke voor hulle monde het nie. Die een oomblik beledig hulle almal, wat van hulle verskil, en die volgende oomblik praat hulle ewe vroom oor die Here.


Hoe het ons dit misgekyk dat “mondsondes” soos skinder, lelik praat en haattaal die heel meeste in die Bybel aangespreek word? Moet ons nie juis elke dag voor die Here kies om al ons woorde te weeg en te tel nie? Dan briek ons minstens die verspreiding van hierdie dodelike praatvirus in ons eie omgewing.

bottom of page