Oop harte = oop hande
top of page

Oop harte = oop hande


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Heilige Gees artikel dat oop hande volg op 'n oop hart.
Oop harte = oop hande

Lees Handelinge 2:44


Mededeelsaamheid is die wagwoord daar waar die Gees werk. Dit sien ek in die Jerusalemgemeente se optrede. Sonder dat iemand dit vir hulle gesê het, het die deure van hulle harte in mekaar se rigting oopgegaan. Vrygewigheid was nou die nuwe wagwoord. Hoe kon hulle aan hul eie besittings vasklou terwyl hul medebroers en suster in die Here broodgebrek gely het? Wat ‘n slegte advertensiebord sou hulle dan nie vir Christus wees nie. Daarom het die Gees hulle beursies laat oopgaan saam met hulle harte.


Die laaste item wat gewoonlik in ‘n Christen se lewe tot bekering kom, is sy of haar beursie. Dit hoort nie so nie. Geesvervuldes is altyd ruimhartige mense. Hulle weet hulle besittings behoort aan God. Daarom kibbel hulle nie eens meer oor die vraag of hulle ‘n tiende vir God gegee het nie. Nee, Geesvervuldes weet jy meet nooit af wat jy vir God gee nie, want jy gee alles. Jy gee jouself. Die Heer is Eeienaar van alles wat jy is en het. Daarom dat jy bereid is om ruim, selfs oordadig, weg te gee as die Gees iemand oor jou pad stuur wat nodig het om geseën te word met kos, brood, klere en ander konkrete hulp. Daarom dat jy nie meer vasklou aan jou aardse sente nie. Dit wat jy het, is nie joune nie, maar God S’n. Deel dit uit.


Gebed

Heer, wat myne is is Uwe. Gebruik dit soos wat U wil. Amen.

bottom of page