Ons oortredings is nie ons stokperdjies nie
top of page

Ons oortredings is nie ons stokperdjies nie


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus nuusbrief hoe Romeine 5 en 7 ons help om God se genade te beleef.
Ons oortredings is nie ons stokperdjies nie

“Jy stel my teleur.” Hoeveel keer het jy nie al sulke woorde gehoor nie? Dalk het jy dit al self gebruik. Wel, ons almal doen dit met God. Ons stel Hom teleur. Ons breek sy hart. Maar die goeie nuus is dat Hy dit lankal verreken het. Hy weet alles van ons af, ook dat ons Hom maar weer iewers op die pad vorentoe in die steek sal laat. Die Here weet ons is net mense wie se ja teenoor Hom nie aldag ja is nie. Ons verbind onsself keer op keer opnuut aan Hom, maar voordat ons onsself kry, het ons alweer op ’n afdraaipad beland. Oor en oor sê ons askies vir ons sondes en foute, net om dit môre en oormôre te herhaal.


In Romeine 7 se woorde weet ons dat die goeie dinge wat ons wil doen, ons net nie aldag gedoen kry nie. God weet dit ook. Nogtans het Hy ons lief. Jesus se kruis het vooruit en agteruit betaal vir ons foute en ons oortredings. In die taal van Romeine 5 het die Here ons reeds liefgehad het toe ons nog dood was in ons eie sonde, en toe ons nog sondaars en vyande van Hom was. Hoeveel te meer sal Hy ons nie nou alles uit genade skenk nie! Hoeveel te meer sal Hy ons nie liefhê met ons foute en al nie. Hoe meer ons dit verstaan, hoe meer wil ons gehoorsaam wees aan die Here. Dan wil ons heilig en reg leef. Genadiglik is dit die Heilige Gees wat ons gedurig oortuig van ons droogmakery, en wat ons ook aanvuur om die Here te dien. Daarom maak ons nooit van ons foute en oortredings ons stokperdjies nie.

bottom of page