Nie net woorde nie
top of page

Nie net woorde nie


Lees Johannes 16:13a


Ons leef in ‘n wêreld van informasie-oorlading. Kan jy glo dat ‘n naweekuitgawe van die bekende New York Times meer inligting bevat as wat ‘n gemiddelde persoon tydens sy of haar ganse leeftyd in die sewentiende eeu moes baasraak. Daagliks word daar meer as vyf biljoen SMS’e rondgestuur, sewe miljoen webblaaie tot die internet toegevoeg, 500,000 virtuele “blogs” op MySpace bygevoeg en noem maar op. Inligting oorspoel ons van alle kante en dit lê ons lam. So bevind navorsers. Trouens, ek lees nou die dag dat die gemiddelde persoon se besluitnemingsvermoë reeds merkbaar afneem, wanneer die keuses opskuif vanaf ‘n skamele twee na drie opsies.


Gelukkig het Jesus besef dat lewensveranderende inligting, soos dít, wat Hy in Johannes 13-17 met Sy dissipels deel, eenvoudig te veel vir hulle was om te verwerk. Hulle kon dit op daardie stadium nie behoorlik begryp nie. Maar die fenomenale nuus is dat die beste inligtingverwerker in die ganse heelal, die Gees self, spoedig sou kom om hierdie inligting tot lewenswaarhede in hulle te omskep. Sjoe, terwyl informasieoorlading die meeste mense vandag lamlê, gebeur dieselfde nie, wanneer die Gees opdaag nie. Inteendeel, dan verander Hy Jesus se leringe in egte lewe! Dan word Jesus se woorde omskep in die regte dade. Die Gees het mos gekom om ons almal in die volle waarheid te lei.


Gebed:

Sal U asseblief vandag Jesus se leringe in my lewe in dade verander, Heilige Gees. Amen.

bottom of page