Die waarheid het nie baie kante nie
top of page

Die waarheid het nie baie kante nie


Lees Johannes 16:10


Sommige mense het die vermoë om alles in die lewe ingewikkeld te maak. Hulle sien altyd net probleme raak, nooit oplossings nie. Gelukkig is daar darem baie ander, wat oor die gawe beskik om dinge te vereenvoudig. Maar nou ja, Albert Einstein het ook op ‘n dag gesê: “We must keep things as simple as possible, but never simpler!” Miskien is die uitdaging om dinge nie heeltyd nog ingewikkelder te maak nie, maar om dit terselfdertyd ook nie te oorvereenvoudig nie.


Ons leef daagliks op ‘n hoogspanningsdraad, waar ons moet sin maak van sowel die eenvoud as die kompleksiteite van die lewe. Jesus help ons in ons soeke na die regte koers vir ons lewe deur dit te benadruk dat waarheid met Hom te make het. Die reg is aan Sy kant. Waarheid en nuwe lewe is daarom nie vae, ongedefinieerde begrippe nie. Dit het ‘n duidelik naam en ‘n adres. Nou word groot temas soos sonde, geregtigheid en oordeel verstaan en gedefinieer vanuit Jesus self. Hy is immers die beliggaming van die waarheid. Boonop skryf die Gees Sy soort waarheid oor in gewone mense se harte sodat hulle koers kan hou tussen al die ingewikkelde keuses deur, wat hulle moet maak. Jy ook! Die Gees vereenvoudig jou lewe ook aansienlik deur Jesus as die enigste naam en adres vir die waarheid aan jou te openbaar. Is dit nou nie goeie nuus nie!


Gebed:


Dankie dat die Waarheid eenvoudig is. Ek vind dit in U, Here Jesus. Amen.

bottom of page