‘n Drukkie praat sy eie taal
top of page

‘n Drukkie praat sy eie taal


In haar nuwe artikel vir ekerk skryf Alet Garnder oor die krag van 'n drukkie wat sy eie taal praat.
‘n Drukkie praat sy eie taal

“Can you give me a hug?” ‘n Drukkie vir ‘n wildvreemde man?!


Uit die veld geslaan het ek gewonder hoe ek uit hierdie situasie kom. Die hawelose man in een van Londense ondergrondse treinstasies het gestaan en Big Issue-tydskrifte verkoop en ek was haastig. Ek het nou wel nie ‘n WSJD-armbandjie gedra nie, maar het dadelik gewonder wat Jesus sou doen. Net daar gee ek vir ‘n hawelose man ‘n drukkie, ‘n drukkie wat ek nooit sal vergeet nie. Dit was asof ek vir Jesus self ‘n drukkie gegee het!


Om deernis (compassion) te betoon, is een van Jesus se uitstaande kenmerke, soos in Matteus 9:36 aangeteken: When He saw the crowds, He was moved with compassion and pity for them, because they were dispirited and distressed, like sheep without a shepherd. (Amplified Bible)


Dis so maklik om te kritiseer of te veroordeel, wanneer ons iemand anders sien wat sukkel of in sonde verstrengel is. As ek in gedagte hou dat die Here my met baie geduld en deernis hanteer, dat Hy die hoogste prys betaal het sodat ek vergewe en heel mag wees, sal ek mos met ander oë kyk na die haweloses en die verdwaaldes om my. Komende uit ‘n eie seer huwelikskrisis, het ek en Brink ‘n paar dekades gelede by ‘n familielid gekuier, wat self in ‘n buite-egtelike verhouding beland het. Ons het oor koeitjies en kalfies gesels (hy was terloops ‘n boer) en hulle so terloops genooi na ‘n evangeliese naweekseminaar. Terwyl hy gekoes het om tog net nie te commit vir so ‘n geprekery nie, was die deurslaggewende oomblik skynbaar toe ek aan die einde van die kuier groet met ‘n drukkie en “Ons is baie lief vir jou”.


Natuurlik gaan dit nie presies so werk in elke situasie nie, maar ek glo dat die Heilige Gees elkeen van ons sal lei, wanneer ons voor ‘n situasie te staan kom, waar ‘n drukkie of ‘n liefdevolle woord die wegdraai van die verkeerde pad net soveel makliker sal maak.


Julle is die mense wat God uitgekies het, wat Hy geheilig het en wat Hy lief het. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. (Kolossense 3:12 NLV)




bottom of page