My bors brand
top of page

My bors brand


Ivor Swartz skryf in sy  nuutste My Lewe artikel oor 'n gesegde wat gebruik word as iemand kwaad word. Hy help ons egter deur te kyk na hoe ons kan oorgaan na aksie toe.
My bors brand

Waar ek vandaan kom het ons ‘n beskrywing vir kwaad-word wat ek dink die beste is. Wanneer jy kwaad word vir iemand sal jy gewoonlik sê,

“djy maak my bors warm, djy.”

Is dit nie ‘n letterlike beskrywing van wat hier binne ons gebeur wanneer ons kwaad word nie?


Ons almal ken daai gevoel wanneer jy te nagekom word en jy kan min daaraan doen, of wanneer iemand jou aanvat in die openbaar, of wanneer jy ongeregtigheid sien en dit wil aanspreek. Jou bors voel of dit warm raak en aan die brand wil slaan. Dis soos elke keer wat Popeye sy breekpunt bereik het en genoeg gehad het van sy teenstanders, en sal sê:

“That's all I can stands, I can't stands no more.”

Ek was al ‘n paar keer daar by ou Popeye se punt tydens die inperking. ‘n Paar keer waar ek gedink het genoeg is nou genoeg. Ek breek nou die reëls en doen my eie ding! “that’s all I can stands, I can stands no more.” Maar daardie bors-brand oomblikke was alles net omdat my gemaksone nie meer die ongemak kon- of wou- hanteer nie. En daardie bors-warm oomblikke het nooit tot aksie gelei nie. My bors het warm geraak, ek het gekla, en ek het aan beweeg- tot die volgende keer wanneer dit weer gebeur het!


My bors kan vinnig warm raak, maar nie so vinnig na aksie oorgaan om met oplossings op te kom teen dit wat my bors so laat brand nie.


My bors brand wanneer ek hoor van hoe arm en weerlose mense oorgelaat word aan ‘n ondenkbare lot, omdat mense in mag deur geldgierigheid en selfsug gedryf word. Miskien sê ek iets op sosiale media daaroor, maar dit dryf my nie tot aksie nie.


My bors brand wanneer ek hoor van onskuldige mense wat in hul eie huise op plase vermoor word en hul uitroep om hulp en ondersteuning nie gehoor word nie. Miskien vertel ek my vrou van hoe wild en boos die wêreld is, maar dit dryf my ook nie tot aksie nie.


Ek wonder wat dit my gaan vat om te sê, “that’s all I can stands, I can stands no more”, wanneer ek al die ongeregtigheid om my sien, wat my nie direk raak nie, waar waaraan ek iets kan doen. Ek wonder of ek slegs met ‘n brandende bors gaan rondloop en met onaktiewe hande en voete.


Paulus vertel vir ons van ‘n Jesus “I can stands no more” oomblik in Filippense 2:6-8 wanneer hy sê,

“Alhoewel Hy self God was, het Hy nie vasgeklou aan wat Hom toekom nie, maar Hy het dit prysgegee: Hy het ‘n slaaf geword en aan mense gelyk geword. En toe Hy as mense geleef het, het Hy Homself nog verder verneder deur tot die dood toe gehoorsaam te wees, ja, tot die kruisdood toe!”

Jesus het Sy hemelse gemaksone opgegee en in die ongemak van die menslike storie geklim. Hy het Sy bors laat brand vir die sonde, die ongeregtigheid, die godsdienstigheid van die mens. Maar Sy brandende bors het in bebloede hande aan ‘n kruis geëindig! Miskien lê my probleem daarin, dat ek dit makliker vind om slegs my bors warm te laat raak oor goed en dan te dink ek maak ‘n verskil, maar nie bereid is om met bebloede hande te staan nie. Miskien is dit ‘n vraag wat ek en jy onsself moet afvra die volgende keer wat ons so bors-warm wil raak oor wat besig is om te gebeur in ons land: Is ek bereid om met bebloede hande te staan vir dit wat my so bors-warm maak?

bottom of page