Moenie volgorde met rangorde verwar, wanneer liefde ter sprake is nie
top of page

Moenie volgorde met rangorde verwar, wanneer liefde ter sprake is nie


Moenie volgorde met rangorde verwar, wanneer liefde ter sprake is nie

Die Nuwe Testament verskaf nie ‘n lys van wie ons moet liefhê en wie ons mag haat nie. Dit is net mooi andersom. Ons moet almal liefhê: gelowiges en nie-gelowiges, familie en nie-familie, jonk en oud, oulik en minder oulik, vriend en vyand. Maklik? Nee! Maar dit is nooit die vraag in die Bybel nie. Al vraag is of ons dit doen. Ons het nie ’n keuse watter mense meer of minder waarde vir ons het, wanneer dit oor ons geloof gaan nie. 1 Johannes 3 sê ons is leuenaars as ons sê ons het God lief, maar ons voel ’n veer vir ander mense. Nee, dit beteken nie ons kan of moet alles vir almal probeer wees nie. Ons kan in elk geval dit nie regkry nie, want ons elkeen het net een lewe.


In Galasiërs 6 help Paulus ons prakties met hoe ons moet liefhê, as hy sê ons moet goed doen aan alle mense, maar dit begin heel eerste by medegelowiges. Ons moet egter nie hierdie volgorde van goeddoen en omgee verwar met rangorde, asof daar minder en meer belangrike maniere van naasteliefde is nie. Ons is liefde aan álmal verskuldig. So leer Romeine 13 en vele ander tekste in die Bybel. Huisgenote van die geloof is eerste op ons radar. Nogtans, as ons vyande dors is, dan gee ons ook vir hulle ’n beker water, soos wat ons lees in Romeine 12. Ons leef en doen die Here se liefde. Ons doen dit bepland en onbepland. Terloops, doen jy dit? Leef jy in die liefde van God?

bottom of page