• Siegfried Louw

Maatslag


Het jy al ooit bestuur terwyl jy nies?


As jy teen 120km per uur ry en jy nies, bestuur jy byna 20 meter met jou oë gesluit. Dit is één ding om te sê jy kan iets toe-oë doen. Dit is ʼn ander ding om ʼn een-ton-voertuig te bestuur terwyl jy nie kan sien nie. Gewoonlik is dit in orde, want jy onthou hoe daardie twintig meter voor jou gelyk het.


Malcolm Gladwell skryf in “Blink” hoe ons die wonderlike vaardigheid het om binne ʼn oogwink te weet wat ons opinie oor iets of iemand is. Party dinge kom net outomaties. Ons weet sommer met ons “gut”. Die meeste van die tyd is ons “gut” sommer reg ook. Die probleem is egter dat dit soms verkeerd is. Hoe nou gemaak?


So ʼn rukkie gelede het my dogter tydens ʼn “livestream” erediens gesing. Die plan was in alle opsigte eenvoudig. Sy sing die ou bekende lied net na my boodskap, terwyl ek haar op die klavier begelei. Die lied word gewoonlik in 6/8 tyd gedoen, maar ons besluit op 4/4. Dit gee ʼn heel ander gevoel aan die lied.


Wanneer iets eenvoudig is, hoef jy nie te dink nie. Jy kan net jou oë knip en aangaan, sê Gladwell. Wat jy moet weet, kom vanself.


Toe my preek klaar is, skuif ek agter die klavier in. Ek weet ek hoef nie te dink nie, want die plan is eenvoudig en klaar uitgewerk. Reg?


Verkeerd.


My dogter sing in 4-tyd, soos ooreengekom. En ek begelei in 6/8. Hoekom doen ek toe dit? Want ek het nie getel voor ek begin nie. Ek ken die lied: dis maklik en verg nie veel konsentrasie nie. Met ʼn oogknip kan ek net aangaan, sonder om te dink. Dit het my ʼn rukkie geneem om te registreer dat iets drasties fout is. Om in 6/8 te speel terwyl iemand in 4-tyd sing, is soos om te probeer wals terwyl die res marsjeer. Ek moes vinnig ʼn aanpassing maak. My outomatiese begeleiding het nie gewerk nie, want ek het nie getel voor ek begin het nie. Eers toe ek inval met dieselfde maatslag, het die sing en die speel saam musiek geword.


Nou sit ek egter met ʼn konfrontasie.


Hoeveel dinge doen ek blindelings, omdat ek reken dat ek weet wat ek doen? Hoeveel besluite van my neem ek outomaties, toe-oog, asof ek reeds weet wat ek moet besluit? Wat gebeur as my outomatiese besluite nie ooreenstem met ander mense se outomatiese besluite nie?


Die groot ironie van die hele singstorie, is die feit dat die lied wat gesing is, sê: “Turn your eyes upon Jesus.”


Ek vertrou nog steeds my “gut” vir ʼn klomp dinge, maar ek weet ook beslis dat ek nie alles daarvan kan vertrou nie. Stem my “gut” ooreen met Jesus sʼn? As ek net getel het voordat ek begin klavier speel het, was die lied in alle opsigte reg.


Miskien kan ek net meer gereeld my oë na Jesus se oë toe draai, net om seker te maak dat ek die regte besluite neem “in the blink of an eye”. My outomaties is nie altyd reg nie.


Dit is nie ʼn privaat, persoonlike kyk nie. ʼn Mens doen dit saam met ander. Sodat julle maatslag kan ooreenstem.