Leierskap November 2020 deel 3
top of page

Leierskap November 2020 deel 3


In hulle nuutste Leier nuusbrief, skryf Roedolf Botha en ivor Swartz oor hoe 'n brawe en weerlose leier lyk.
Braaf en weerloos

Braaf en weerloos


Daar is seker min mense wat nie weet wie Brené Brown is nie. Haar Ted Talk oor ‘Vulnerability’ het groot reaksie op die internet veroorsaak en het vinnig een van die program se video’s geword, waarna die meeste mense gekyk het. Ek grap altyd met vriende dat Brené Brown my spirit animal is, omdat daar nie ‘n boek van haar is wat ek nog nie gelees of geluister het nie. Ek is tans besig met “Dare to Lead” vir ‘n tweede keer, hierdie keer as ‘n audioboek. Die tema is hoe om met braafheid én weerloosheid te lei; hoe om die spanning tussen dié twee as ‘n noodsaaklikheid vir leierskap te sien en hoe om met ‘n sterk rug, maar ‘n sagte bors te lei. Sy en haar span het vir 7 jaar braafheid in leierskap bestudeer en al daardie bevindings in hierdie boek saamgevat.

So doen ek onlangs ‘n kamp vir ongeveer 60 tieners uit verskillende skole in die Paarl-omgewing, waar ek help fasiliteer het. Dit was net voor die Amerikaanse verkiesing. Ek luister toe ‘n groep van die tieners gesels oor wie die volgende Amerikaanse president gaan word, Biden of Trump. Een graad 9-dame noem toe sy hou van Biden “omdat Trump nie ordentlik sy gevoelens kan wys nie”. Dit was haar presiese woorde. Dit was asof sy sê dat Trump braafheid ken, maar nie weerloosheid nie. Hy is bekend met “courage”, sonder “vulnerability”.

Jesus is natuurlike die perfekte voorbeeld van braafheid en weerloosheid. Op pad kruis toe - in Getsemane - weet Hy presies wat vir Hom voorlê en Hy hou Hom nie onmenslik braaf nie. Hy toon Sy menswees; Hy word bang; Hy voel of dit moontlik te veel kan wees om te dra. Hy erken Sy swakheid en steeds stap Hy voor en loop Sy dood tegemoet.

Is dit nie so dat die era verby is, waar van leiers slegs verwag word om harde gesigte, sterk rûe, kyk-noord-foeter-voort-houdings te hê nie? Leiers moet ook kan wys hulle stoei met dieselfde goed as die span onder hulle, dat hulle ook vrese het, dat hulle ook soms uit hul diepte is en nie altyd weet wat aangaan nie. Brown sê dít is juis die avontuur: om te kies om braaf én bang te wees “at the exact same time”. Ek en jy ken té veel leiers wat altyd reg is, wat altyd die laaste woord moet inkry, wat altyd nog iets moet bydra by wat alreeds gesê is.

Vier dinge wat vir my duidelik in dié boek uitstaan, wat ek dink vir kerkleiers in ons land belangrik is:

  • “brave leaders are not quiet around hard things”

  • “who we are is how we lead”

  • “the courage to not know”

  • “rumbling with vulnerability”

OM NIE STIL TE BLY OOR MOEILIKE GOED NIE

Lank verby is die tyd waar die kerk net in stilte kon aangaan en net kon wegbly van die moeilike temas in die samelewing. Dis juis wat die kerk ook so vervreem het van die samelewing. Daarmee sê ek nie ons moet op elke “trending bandwagon” spring nie, maar ons moet vanuit ‘n Christus-gesentreerde wêreldbeskouing ook kan bydra tot die openbare gesprekke en nie kop in die wolke leef, sonder enige reaksie op wat in die samelewing gebeur nie.

ONS LEIERSKAP IS DEEL VAN WIE ONS IS

‘n Leier se rol en wat hy of sy doen, kan nie geskei word van wie hy of sy ook as persoon is nie. Dit is waar die moeilikheid vir my met Donald Trump lê. Mense volg hom “omdat hy dinge regkry”, of “omdat die werkloosheidsyfer in Amerika die laagste ooit is”. Dan sal dieselfde mense ook sê: “Ek stem nie saam met wie hy as persoon is nie.” Ons lei vanuit ons waardesisteem, nie vanuit die baadjie of hoed wat ons dra nie. Wanneer die twee te ver van mekaar af is, kan ek ‘n hele gemeente met diep seer los, maar ten minste is die ligte aan en die finansies klop, reg?


OM NIE ALTYD TE WEET NIE

Om altyd te weet, is ‘n gewigtige verdedigingsmeganisme, sê Brown. Dit los min ruimte vir kreatiwiteit en nuuskierigheid. Inteendeel, dit maak jou maklik ‘n siniese leier, wat idees links en regs kan afskiet, omdat jy “nou al weet dit gaan nie werk nie”. “Being a knower is being an enemy of curiosity. And workplaces need more curious people,” sê Brown in een van haar praatjies oor die boek. Daarmee saam gaan ook om nie net “teachable” te wees nie, maar ook ‘n lewenslange student. Om bereid te wees om te lees en te leer by ander, veral die wat nie soos jy lyk, dink, preek of doen nie.


STOEI MET KWESBAARHEID

Indien ons gemeentes en spanne wil kweek, wat saam vorentoe kan beweeg, moet ons ruimtes skep waar kwesbaarheid deel word van wie ons is. Ook hier is die lyn baie fyn. Ons moenie elke keer al ons vuil wasgoed uitgooi nie, maar ons moet met gemaklikheid voor mense kan staan en ons wonde kan wys. Dit bemagtig ander om dieselfde te doen. Dit wys agterdog die deur. In baie gevalle werk leiers al jare saam, maar was nog nie een keer in mekaar se huise nie of ken nie mekaar se kinders nie. Hoe kan ek langs jou in leierskap staan sonder om te weet wat jy in jou hart vashou? Brown definieer kwesbaarheid as “the emotion we experience during times of uncertainty, risk and emotional exposure.” Ons moet die leuen vernietig, wat mense laat glo om kwesbaar te wees gee net vir ander ammunisie om jou mee te skiet. Nee, jou kwesbaarheid maak inteendeel van jou ‘n mens en dit veroorsaak dat ander nader na jou toe wil beweeg.

bottom of page