Leierskap November 2020 deel 2
top of page

Leierskap November 2020 deel 2


Leierskap November 2020 deel 2

Christene en verhoudings

Verhoudings het ‘n betekenisvolle impak op ons lewens. Ongesonde verhoudings laat ons gedreineer, eensaam en ontevrede voel. Tydens die COVID-pandemie het ons selfs meer bewus geword van hierdie negatiewe gevolge.

Die Barna-groep het onlangs ‘n studie oor verhoudings gedoen (Restoring Relationships: How Churches Can Help People Heal & Develop Healthy Connections).


Volgens data versamel voor die pandemie het meer as 50% van volwassenes en 54% van praktiserende Christene in die VSA reeds ten minste een saak gehad wat hulle verhoudings negatief beïnvloed het. Selfs jonger mense het hoër vlakke van eensaamheid ondervind. Tydens die pandemie het dinge selfs meer ingewikkeld en uitdagend geword. Dit word verder vererger deur kwarantyn of isolasie en mense wat van die huis af werk. Ons kan nie meer vir ‘n vinnige koppie koffie ontmoet nie.

Barna het pastore gevra wat die behoeftes van hulle lidmate was. Die drie grootste probleme was emosionele welstand (28%), geestelike welstand (35%) en verhoudingswelstand (27%). Die studie bevind ook dat as mense met een van hierdie probleme sukkel, hulle meer waarskynlik ook met die ander sal sukkel.

Ten minste een uit vyf kerkleiers voel dat hulle emosionele en geestesgesondheid ondergemiddeld is. Daarom noem hulle dit nie in hulle preke nie. Hoe kan pastore lidmate help met hulle emosionele, geestelike en verhoudingsprobleme as hulle self daarmee sukkel?

Christene se tyd aanlyn en op sosiale media het tydens die pandemie toegeneem. Mense soek vertroosting en gerusstelling by hulle verbintenisse. Hulle wil mense hê op wie hulle kan steun. Mense wil verbind voel.

Wat bemoedigend is, is dat baie gemeentes weer dink oor hoe lidmate met mekaar in verbintenis tree. Geloofsleiers moet weer dink oor hoe hulle en hulle lidmate gesonde verhoudings kan bevorder, selfs in die nadraai van die krisis.


Die generasiegaping

[Generasiegaping: uiteenlopende beskouings of benaderings tussen lede van opeenvolgende generasies - HAT]

George Barna (van die Cultural Research Center by die Arizona Christian University) het pas die American Worldview Inventory 2020 bekend gestel.

Een van die belangrikste bevindings is dat jongmense vandag meer van hulle voorgangers verskil as tydens die afgelope sewe dekades. Jongmense verskil radikaal van hulle ouers in veral drie opsigte: respek vir ander, belangstelling in geloof en entoesiasme vir Amerika.

Diegene in die ouderdomsgroep van 18 – 36 jaar is vergelyk met die groep van 56 – 74 jaar oud. 61% van die jonger groep identifiseer as Christene, maar hulle ander antwoorde pas nie hierby in nie. Die jonger groep is:

  • 28% minder geneig om te sê dat hulle die Goue Reël volg;

  • twee maal meer geneig om te sê dat hulle net mense, wat soos hulle glo, respekteer;

  • minder as die helfte sê dat lewe heilig is;

  • 28% meer klou vas aan wraak.

Barna noem dit a robust reduction of the Christian faith. Die jonger groep het hulle losgemaak van die tradisionele Christelike geloof. Jongmense is minder geneig:

  • om te glo dat daar ‘n absolute morele waarheid is;

  • om die Bybel as ‘n betroubare morele gids te beskou;

  • om toegewyd te wees om hulle geloof uit te leef en te bid;

  • om hulle sondes te bely;

  • om te glo dat God mense na sy beeld geskep het;

  • om te glo dat God hulle onvoorwaardelik lief het.

Die jonger groep wonder ook of God werklik in hulle lewens betrokke is.

Barna se siening oor hierdie verskillende perspektiewe van hulle wêreldsiening is: “There is a war for worldview dominance taking place in America. But, as the Scriptures remind us, a nation at war with itself cannot persist.” Die VSA is besig om vinnig sy geestelike eenheid te verloor. Hy glo dat as Amerika nie geestelike eenheid onder God handhaaf nie, hulle die vryhede sal verloor wat Amerika uniek gemaak het.


As tegnologie wraak neem

Tegnologie is ‘n ingewikkelde stelsel, wat dikwels onbedoelde gevolge het. Tegnologie maak ons lewens beter, maar dikwels voel dit asof ons beheer oor ons tegnologie verloor het. Edward Tenner (Why Things Bite Back: Technology and the Revenge of Unintended Consequences) sê dat tegnologie dikwels een probleem oplos, terwyl dit nuwe probleme, wat dikwels erger as die oorspronklikes is, veroorsaak. Tegnologie byt terug. Terwyl die wêreld meer ingewikkeld raak, kan ons verwag dat die potensiaal vir onverwagte gevolge sal toeneem.

As ons nuwe tegnologie oorweeg, moet ons eers vasstel of dit die meer uitgebreide stelsel beïnvloed. Terwyl die stelsels meer ingewikkeld word, kan ons nie meer akkuraat voorspel wat die gevolge sal wees nie. Ons moet versigtig wees om by ingewikkelde stelsels berokke te raak.

Watter tipe gevolge praat ons van?

  • Herhalende gevolge: doeltreffender prosesse dwing ons om dieselfde ding meer dikwels te doen.

  • Kompliserende gevolge: prosesse word meer ingewikkeld wanneer die tegnologie verbeter. So word telefoonnommers langer, omdat ons nie meer die ou telefone gebruik nie;

  • Regenererende gevolge: in ons pogings om ‘n probleem op te los, skep ons nuwe risiko’s. So lei die onoordeelkundige gebruik van antibiotika tot weerstand. Hierdie weerstandige bakterieë is baie moeiliker om te behandel.

  • Herrangskikkende gevolge: die koste en ook die risiko word na elders verskuif. Lugversorgers in die ondergrondse treinstelsel maak die treine koeler, maar die stasies warmer. So sal stofsuiers miet die lug instrooi, waar hulle dan maklik ingeasem kan word.

Ons kry wraakgevolge wanneer die tegnologie, om ‘n probleem op te los, dit vererger as gevolg van onvoorsiene gevolge, wat feitlik onmoontlik is om vooraf te voorspel. Dinge loop skeef, want tegnologie bestaan nie in isolasie nie. Daar is interaksie met ander ingewikkelde stelsels. Probleme kan dus ver van hulle begin af versprei.

Kumulatiewe probleme is moeilik om te meet. Dink net aan kernwapens en klimaatsverandering. Kernwapens se risiko het tot streng instandhouding gelei. Die uitgestelde gevolge van klimaatsverandering begin nou eers ernstige aandag geniet. Akute probleme lei soms tot chroniese probleme. X-strale mag lei tot ‘n klein aantal kankers elke jaar, maar dit red ook baie lewens. Ons kry nie die voordele sonder die risiko’s nie.

Wraakeffekte moet verwag word, al kan hulle nie voorspel word nie. Ons moet dus daarvoor voorberei. Ons moenie te veel vertroue hê in ons vermoë om die toekoms te voorspel nie. Voordat ons in ‘n stelsel ingryp, moet ons daarvan bewus wees dat ons optrede die teenoorgestelde effek mag hê as wat ons verwag. Ons verwagtings van voordele sal meer realisties wees as ons aanvanklik skepties is. As ons versigtiger is in ons pogings om die wêreld te verander, sal ons verhoed dat ons gebyt word.

bottom of page