top of page
deur Coen Slabber

Leier Nuusbrief Feb 2021 Deel 1


Konflik


Almal van ons kom op een of ander stadium konflik teë. Dit is niks nuut nie. Dink maar aan die konflikte in die vroeë kerk en die konflik tussen Jesus en die Joodse wetsgeleerdes. Konflik is ‘n gegewe in die lewe. Konflik op sigself is nie sonde nie, maar sonde mag die oorsaak van die konflik wees. Ons kan ook sondig deur die manier waarop ons op konflik reageer. Wyse leiers weet hoe om konflik te hanteer. In Handelinge 15 word die probleem of nie-Jode eers Jode moet word voor hulle Christene mag word, hanteer. In hierdie gedeelte kry ons vier goeie vrae oor die hantering van konflik. As konflik in die gemeente ontstaan, moet dit met wysheid hanteer word, anders verloor ons momentum, lidmate en hulpbronne.

1. Is die konflik die gevolg van ‘n diep oortuiging of is dit iets wat met persoonlike gebed hanteer kan word?

In die vroeë kerk was die saak van verlossing ‘n wesenlike probleem – was dit Jesus of Jesus plus goeie werke. Dit moes hanteer word, want Paulus en Barnabas kon dit nie ignoreer nie.

Baie probleme is egter bloot sake van persoonlike voorkeur, gevoelens wat seergekry het en misverstande. Ons kan deur hierdie probleme bid en aanbeweeg. Hier is vyf vlakke wat ons kan help om te besluit of meer as net gebed nodig is:

  1. Die saak is ernstig en strek Christus tot oneer. Dit skaad God se reputasie. In die geval van die Judaïseerders was dit die geval.

  2. Die saak belemmer jou verhouding met daardie persoon. As jy die konflik nie oplos nie, sal dit jou verhouding met daardie persoon ondermyn.

  3. Die saak maak ander betrokkenes seer.

  4. Die saak maak die oortreder seer.

  5. Jy kan dit nie net deur gebed oplos nie.

In hierdie gevalle moet jy verdere stappe neem.

2. Het ek ‘n derde party nodig om te help?

In Matteus 18:15 tot 18 lees ons dat jy eers jou broer moet teregwys, eenkant waar julle alleen is. Soms het jy ‘n derde party met baie wysheid nodig om te help om die konflik op te los. Paulus en Barnabas het gevoel hulle moes na Jerusalem gaan om die ouderlinge en apostels in te sluit. Hulle het die wysheid nodig gehad.

Soms het jy selfs raad nodig voor jou een-tot-een gesprek met die ander persoon. Hoekom sal jy dit doen?

  • Is dit werklik nodig om die ander party te konfronteer?

  • Jy het wysheid nodig oor hoe om die ander persoon te konfronteer.

  • Jy moet bemoedig word om die ander persoon te konfronteer. ‘n Wyse persoon kan jou die vertroue gee om dit te doen.

As jy ‘n derde party inbring, kontroleer jou motiewe. Maak seker jy doen dit nie net om die ander persoon sleg te laat lyk nie.

3. Kan ons mekaar tegemoet kom?

Soms gaan dit nie oor wat die ander persoon jou aangedoen het nie, maar oor jou rol in die konflik. Soms moet ons die ander persoon se wens eerbiedig; soms moet ons terugstaan en die saak daar los. ‘n Kompromis beteken nie dat jy die waarheid of jou oortuigings afwater nie. Dit beteken ook nie dat jy swak is nie.

In die geval in Handelinge 15 moes die Judaïseerders hulle verkeerde siening dat om ‘n volgeling van Jesus te wees, jy eers ‘n Jood moes word, opgee.

4. Verstaan ek die saak duidelik

Soms word die konflik so deurmekaar dat beide kante die ware probleem vergeet. In hierdie gevalle weerspieël die konflik soms iets dieper, wat nie verband hou met die huidige saak nie.

Die vroeë kerk het duidelikheid oor hulle probleme gekry deur na die geskiedenis, die feite en God se Woord te kyk. Hulle het met mekaar gepraat, na mekaar geluister en selfs ‘n brief geskryf oor wat hulle besluit het.

As hulle die saak opgelos het, het hulle ‘n verenigde front voorgehou, enige skeuring vermy en mekaar aangemoedig. As ons waarlik die konflik opgelos het, is almal verlig.

As jy konflik hanteer, maak seker dat jy die werklike saak hanteer en opklaar.

Hierdie vier vrae gebaseer op hoe die vroeë kerk konflik hanteer het kan steeds help om konflik in hulle gemeentes op te los.


Vind jou eie Kalkutta


Agnes Gonxha Bojaxhiu is as tiener na die bediening geroep. Sy het haar opleiding in Ierland en Indië gekry. Eendag nader sy haar owerstes met ‘n godgegewe passie: sy wou ‘n weeshuis bou. Sy het drie pennies tot haar beskikking gehad. Haar owerstes het dit duidelik gestel dat sy nie met drie pennies ‘n weeshuis kon bou nie: “Met drie pennies kan jy niks doen nie.” Agnes glimlag en sê vir hulle: “Ek weet, maar met God en drie pennies kan ek enigiets doen.”

Vir 50 jaar werk Agnes onder die armes in Kalkutta. In 1979 wen sy die Nobel-prys vir vrede. Ons ken haar as Moeder Teresa. Hoe het hierdie vrou met so min so baie vermag? Die antwoord is eenvoudig: moet nooit iemand onderskat wat bereid is om ‘n Godgegewe passie na te volg nie.

Teen die einde van haar bediening is Moeder Teresa dikwels gevra hoe mense met hulle eie lewens ‘n verskil kan maak. Haar gereelde antwoord was: “Vind jou eie Kalkutta.”

Jy het nie rykdom of ‘n magsposisie nodig om ‘n verskil te maak nie. Jy moet net die beste wees wat jy kan wees met wat jy het, waar jy is. As jy getrou in Babilon is, sal God jou seën in Jerusalem.

Soos Nehemia, wat die skinker vir die Persiese koning was, moet jy die beste skinker wees, wat jy kan wees. Dit is die nastreef van ‘n passie.


‘n Ware godsdiens


John G. Stackhouse het ‘n baie interessante boek geskryf: Can I Believe: An Invitation to the Hesitant. Hoe meer ons met mense buite die Christelike geloof te doen kry, hoe meer word ons bewus van hierdie vraag. Die Christelike geloof verkondig sommige idees wat bisar klink: ‘n slang wat praat, ‘n stad se mure wat intuimel as gevolg van trompetgeskal, die son wat in die middel van die dag stilstaan, Jesus wat water in wyn verander, wat op water loop en selfs uit die dood opstaan.

Dan is daar die eties eise van hierdie geloof, soos om die ander wang te draai en om jou vyande lief te hê. Daar is ook elemente uit die geskiedenis van die kerk, wat ‘n mens vrae laat vra. Hier dink ons aan die kruisvaarte en die inkwisisie. Dit klink na genoegsame rede om die geloof te verwerp. Tog aanvaar meer as twee biljoen mense hierdie geloof.

Stackhouse definieer geloof as ‘n stel oortuigings, waardes en praktyke. Hy sê daar is drie dinge wat enige geloof moet doen:

  • Dit moet belydenisskrifte hê, wat akkuraat beskryf hoe die dinge moet wees.

  • Dit moet ‘n kode hê, wat ons leer om te reageer op hoe dinge is.

  • Dit moet ‘n gemeenskap van mense hê, wat ons help om die geloof te verstaan en die onderrig daarvan uit te leef.

As ons ‘n godsdiens wil verstaan, moet ons besluit hoe goed dit hierdie drie doeleindes vervul. Dinge kan verkeerd loop, want jy kan ‘n dooie of disfunksionele kerk besoek.

Stackhouse gee daarna aandag aan die Christelike geloof. Hy identifiseer vier leerstellings wat kwalifiseer as noodsaaklik:

  1. Wat is werklik? Die leerstelling van die skepping.

  2. Wat is die beste? Die idee van shalom. Dit is die basis van Christelike hoop vir die huidige en die toekoms wanneer God sy beloftes gaan vervul en die wêreld se chaos tot ‘n einde kom.

  3. Wat is verkeerd? Die werklikheid van sonde en die bose.

  4. Wat kan gedoen word? Hierin hanteer hy die nuwe geboorte, heiligmaking, die kruis, Christus se sterwe en opstanding, vergifnis en die hoop op ‘n nuwe wêreld, waar geen begeerte vir sonde meer bestaan nie.

Dankbaarheid


When it comes to life, the critical thing is wether you take things for granted or take them with gratitude - G. K. Chesterton.

Paulus het ook hieroor gepraat. Dit het gebeur toe hy en Barnabas as gode gesien is. Dit het in Listra, ‘n stad in moderne Turkye, gebeur. Dit het gebeur net nadat Paulus ‘n lam man genees het. Die skare het onmiddellik besluit dat Barnabas Zeus en Paulus Hermes was. Ons sien Hermes se simbool van die gevleuelde voet vandag steeds in die simbole van baie maatskappye.

Die mense het aanvaar dat Paulus Hermes was, want hy het al die praatwerk gedoen. Hulle wou offers aan die apostels bring - selfs die priester van die Zeus-tempel het deelgeneem aan die offers. Die apostels protesteer en Paulus gee ‘n verduideliking oor hoekom die mense die een lewende God moet aanbid:

Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. Hy het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan, maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak. (Handelinge 14:15 – 17).

Die preek is eenvoudig: God het alles gemaak, aanbid Hom. Maar sien raak wat Paulus as bewyse vir God aanbied: reën, seisoene, kos en geluk.

1. Reën

Die antieke Griekse filosowe, wanneer hulle sin van die werklikheid wou maak, het na water gekyk. Dit kon ‘n vloeistof, solied en ‘n gas wees. Dit lyk asof dit intrinsiek die krag van beweging het, soos die getye van die see. Water was vir hulle ‘n goeie kandidaat vir hulle basiese teorie van alles. Selfs vandag nog is die watersiklus verbasend.

2. Die seisoene

Daar is verskille in die weer in die verskillende seisoene. Dit gee aan ons optimale tye vir plant en oes.

3. Feesviering en geluk

Hierdie is die logiese resultaat van die reën en die seisoene.

Paulus verduidelik dat dit alles na God heenwys. Daar gebeur iets baie interessant as ons eet. Die brein stel ‘n opiaat vry. Dit veroorsaak ‘n gevoel van plesier. Eet maak ons gelukkig. Die Hobbit sê: If more of us valued food and cheer and song above hoarded gold, it would be a merrier world.” (J.R.R. Tolkien)

Die Bybel sê iets oor eet en plesierig wees: Maar nou is julle nog vrolik en plesierig, julle slag beeste en kleinvee, julle eet vleis en julle drink wyn, julle sê: Laat ons eet en drink, want môre is ons dood. (Jesaja 22:13 – 14). Hoekom die oordeel? Want die mense het nie geluister na Hom, wat die stad gemaak het, wat dit lank gelede gestig het nie, hulle het hom nie gehoorsaam nie.

Die Prediker moedig ons aan om te eet en gelukkig te wees, want God het dit aan ons gegee (9:7). Ons vier met dankbaarheid fees, want die Skepper, wat voorsien, gee dit aan sy mense. Paulus skryf in 1 Korintiërs 15:32: As die dooies nie opgewek word nie, laat ons eet en drink, want môre sterf ons. Omdat Jesus uit die dood opgewek is, kan ons eet, drink en vrolik wees, want daar is ‘n opstanding. Die dood is nie finaal nie.

Paulus se doel met die gebruik van die reënseisoene, feesvieing en geluk was nie om ons aandag op hierdie dinge te vestig nie. Dit was om te verseker dat hierdie dinge ons aandag op Hom, wat al hierdie dinge gemaak het, vestig. Ons is so geneig om op die skepping en nie op die Skepper te fokus nie. Paulus se boodskap het nie algemeen byval gevind nie. Hiedie selfde skare, wat hulle as gode wou aanbid, sleep kort daarna vir Paulus uit die stad en gooi hom met klippe en laat hom vir dood buite die stad lê.

Danksegging is ‘n radikale optrede van trou. Ons danksegging wys waar ons ware trou lê. Waar ons ons dankbaarheid rig, is ‘n aanduiding van wat ons glo. Toe Paulus die Griekse mitologie uitdaag en sê dat dit onvoldoende is om dit, wat goed is in die materiële wêreld, te verduidelik, draai die skare teen hom.

If we can’t give God anything else, let’s at least give him our thanks. (Charles Spurgeon) Wat ons ook al doen, of ons nou eet of drink, doen dit tot eer van God.


Коментарі


bottom of page